AfriForum bereid om speelparkies teonderhou en vir gemeenskap te behou

Die parkie in Luscombestraat wat sedert 2023 deur AfriForum bestuur en onderhou word, is een van twee parke wat gereeld deur inwoners besoek word. Foto’s verskaf

IN reaksie op ’n kennisgewing van die munisipaliteitdat hulle van voorneme is om speelparkies
in Oudtshoorn vir ontwikkeling beskikbaar te stel, het AfriForum op 25 Augustus met amptenare van die munisipaliteit vergader om beswaar te maak.

AfriForum het ’n petisie met 260 handtekeninge teen die verkoop van die parkies aan die munisipaliteit oorhandig. In ’n verklaring sê Donovan Kleynhans, AfriForum-voorsitter in Oudtshoorn onder andere: “Ons het beklemtoon dat Oudtshoorn ’n tekort aan openbare ruimtes het. Parke wat reeds deur AfriForum opgeknap is, is daarom uiters gewild, met daaglikse besoekers wat selfs uit ander woonbuurte kom om dit te gebruik. Dit onderstreep die kritieke belang van toeganklike openbare ruimtes in elke woonbuurt.”

Kleynhans sê dat Clyde Avontuur, regsverteenwoordiger van die munisipaliteit, tydens die
vergadering gesê het die parke is ’n las vir die munisipaliteit, aangesien baie in ’n vervalle
toestand is en gereeld deur misdadigers gebruik word vir aktiwiteite soos dwelmgebruik, -handel,
vullisstorting of onwettige besetting.

Die munisipaliteit is ook verplig om bekostigbare behuising, veral hoëdigtheidbehuising soos
woonstelle, te voorsien.

Die erwe wat tans as parke dien, is volgens hom ideaal hiervoor. Avontuur het beklemtoon dat die
munisipaliteit ’n balans moet vind tussen die behoud van openbare ruimtes en die voorsiening van
voldoende behuising.

AfriForum het reeds in 2023 begin om parke op te knap en te bestuur en volgens Kleynhans kan
dieselfde met die ondersteuning van die gemeenskap in ander parke gedoen word.

Hy wys ook daarop dat AfriForum se buurtwagte reeds die misdaadprobleem in hierdie twee parke grotendeels opgelos het.

“Ons het verder gewys op die feit dat nuwe hoëdigtheidbehuising die vraag na openbare ruimtes sal verhoog. Indien die bestaande parke verkoop word, sal dit weens ’n tekort aan alternatiewe
persele, bykans onmoontlik wees om in die toekoms te herstel,” het hy gesê.

Volgens Kleynhans het amptenare genoem dat die Oudtshoorn besigheidskamer druk op die munisipaliteit plaas om parke vir behuising te ontwikkel. In reaksie op ’n navraag hieroor het Abri Ferreira, voorsitter van die besigheidskamer, aan Die Hoorn gesê dat daar nie druk geplaas word om parke aan te wend nie, maar eerder groter rumtes aangesien die parke nie genoeg ruimte vir behuising bied nie.

Hy het bygevoeg dat hulle openbare deelname prosesse wat die munisipaliteit moet volg om ontwikkelingsareas te identifiseer ondersteun.

Kleynhans het aan Die Hoorn gesê dat AfriForum bereid is om ’n memorandum van ooreenkoms
met die munisipaliteit te sluit om parke in die gemeenskap te bestuur en te te onderhou om
sodoende die finansiële druk van die munisipaliteit te verminder en die gemeenskap toegang tot
veilige openbare ruimtes te gee.

Tydens die vergadering het die munisipaliteit aangedui dat daar moontlik na alternatiewe ruimtes
vir parke gekyk kan word indien van die bestaande parke verkoop word. Kleynhans sê ’n opvolgvergadering is voorgestel om spesifieke parke en alternatiewe erwe op ’n kaart te bespreek.

’n Datum vir die opvolgvergadering is nog nie bepaal nie. Die Hoorn het ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur om te bepaal of daar reeds met ontwikkelaars oor spesifieke parke onderhandel is en of daar oorweging aan AfriForum se voorstel geskenk word. Reaksie op die navraag sal in ’n opvolgberig gedek word. (HANNES VISSER)