Op die kruin van Kilimanjaropresies ses maande na tragedie

Bo: Maryke Roeloffze by een van die oornagkampe met Kilimanjaro in die agtergrond. Foto’s verskaf Onder: Maryke met die boodskap vir haar ma. Heelonder: Kruge en Maryke op die kruin van die berg.

Presies ses maande na die onverwagse dood van sy vrou, Annemarie, op 8 Maart in die Gamkaberge, staan Kruge Roeloffze en sy dogter Maryke, op die kruin van nog ’n berg; Kilimanjaro
in Tanzanië.

Hy vertel dat hy en Maryke die agtdae staptog tot op die kruin van Kilimanjaro en weer af, lankal beplan het.

Hulle het toe beplan om na die staptog by Annemarie en hul ander dogter, Suné, aan te sluit vir ’n safari.

Annemarie het egter in Maart, tydens ’n staptog in die Gamkaberge, aan ontbering beswyk. Om Kilimanjaro voor haar dertigste verjaarsdag te klim, was Maryke se droom toe sy destyds as jong
meisie The Lion King gesien het.

Kruge het hierdie week na sy terugkeer van Tanzanië af met Die Hoorn gesels oor die staptog saam met Maryke, wat in Amerika woon.

“Die fisiese uitdaging was groot, maar ons was daarop voorberei. Die emosionele uitdaging en die emosionele ervaring toe ons die kruin bereik en Maryke ’n deel van Annemarie se as daar kon strooi, kan ek nie beskryf nie,” sê hy.

Hy sê dat hierdie ’n jaar van berge was wat oorkom moes word. Op sy Facebookblad sê hy: “Toe ek
en Maryke verlede jaar begin praat het van Kili klim, het ons nog nie geweet wat berge vir ons inhou nie, het ons nog nie geweet van ’n ander berg wat vir ons gesin gelê en wag het nie. Ek dink ek kan sê ek het hierdie jaar die hoogste en die laagste berg geklim.

“Gamkaberg is glad nie hoog nie, maar die laagste berg kan ook die hoogste wees, want dit het ’n pilaar onder my uitgeruk wat my op ’n gevaarlike wyse laat wankel het.”

Kruge vertel van die ervaring en die fisiese uitdaging om die kruin van die hoogste berg in Afrika te bereik.

Hy vertel van hoofgids Baraka Luku-May wat die kruin al meer as 200 keer bereik het en van die portiere wat hulle goed dra, kampe op- en afslaan, van die baie water drink en baie eet, en dat hy
nie verwag het dat dit so stowwerig sou wees nie.

Hy vertel van die twee mede-stappers wat die tog as vreemdelinge saam met hulle begin het; die Latviër, Inita Mix, wat toevallig skaars twee ure vanaf Maryke in die VSA bly en van die vriendskapsband wat tussen hulle ontwikkel het, en Kai Vaja wat teruggekeer het na sy Swahili-ma se geboorteland.

Hy vertel van die gasvryheid en vriendelikheid van die Tanzaniërs en van die verskillende roetes wat tot bo-op Kilimanjaro gevolg kan word en dat daar op enige gegewe dag letterlik honderde mense op pad boontoe is en dat daar nie lank getalm kan word om foto’s op die kruin te neem nie, want almal wil ’n kans kry.

Maar hy vertel ook van die maanverduistering die aand voordat hy en Maryke presies ses maande na Annemarie se heengaan op die kruin staan en Maryke ’n bladsy oopvou met die boodskap VIR MAMMA en hulle die as strooi.

Hy vertel van die empatie van hulle groep toe hulle die storie van die ander berg hoor en hy gesels oor berusting en oor aangaan en oor nog ’n berg skaars ’n maand gelede toe sy oudste suster ook oorlede is. Kruge oorweeg dit om nog die Camino de Santiago te stap, want “Annemarie sou dit vir bepeinsing voorgestel het.”

Wat het Kruge uit die sonderlinge ervaring met Maryke teruggebring? Die antwoord verwoord hy so: “’n Berg vra vir ’n berg. By Kili het ek geleer van pole-pole (vat dit rustig), ek het geleer dat om deel van n groep te wees wat in dieselfde rigting trek, jou help om jou doelwit beter voor oë te
hou, dat ondersteuning en rigting kom van onverwagte plekke en van mense wat jy sommer nou die dag eers leer ken het. Dat jy moet vertrou. En dat opgee nie ’n opsie is nie.” (HANNES VISSER)