DIE saak teen ’n boer van Aberdeen wat van menseroof en die seksuele aanranding van ’n vrou van De Rust aangekla word, is na sy getuienis in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak tot 29 Julie uitgestel.
Louis Lategan (39) het glo op 15 Oktober 2021 vir Sonja Cloete (39) net buite De Rust gevra om hom te gaan wys waar die Delports woon. Terwyl hulle gery het, het hy haar gevra om haar T-hemp op te trek en haar borste met sy linkerhand betas.
Sy het getuig dat sy nie ’n bra aangehad het nie en haar T-hemp opgelig het omdat sy nie geweet het of die beskuldigde ’n wapen by hom gehad het nie. “Toe hy verby die afdraaipad na die Delports se plaas ry, het ek met handgebare verbygaande voertuigbestuurders se aandag probeer trek.”
Sy het hom gevra om te stop omdat sy aan haar kind, kêrel en haar bejaarde ma gedink het, maar hy het net geglimlag. Die beskuldigde het volgens Cloete ’n ent verder stilgehou en glo vir haar gesê dat hy haar gaan uitlaai want “netnou dink die mense hy probeer haar ontvoer”.
Hy het haar ’n pakkie sigarette gegee. Hy is later by ’n padblokkade deur die polisie voorgekeer en teruggeneem na die De Rust Polisiekantoor waar hy aangekla is.
Cloete se suster, Anna Andrews, het getuig dat hulle twee op pad was na De Hoop toe ’n motor by hulle stilgehou het. Haar suster het na die motor gedraf en toe die deur oopgaan het sy ingeklim.
“Ek kon sien dat dit ’n groot, wit man was wat bestuur het,” het sy getuig. Sy het twee fietsryers gevra om die polisie te skakel.
Lategan ontken dat hy uit sy eie stilgehou en Cloete gevra het om hom te gaan wys waar die Delports se plaas is. Volgens hom het sy hom gestop en gevra om saam te ry. Sy het daarna nooit gesê waar hy moes stop nie. Hy ontken dat hy haar betas het of vir haar sigarette gegee het.
Volgens hom het sy die sigarette gevat toe hy stilgehou het en haar gevra het om uit te klim.
(Deur Garnett Wicomb)