Diere wat deur ander honde aangeval word is nie ’n nuwe verskynsel nie. So vertel Elmarie Swiegers, van Animal Care Team (ACT) aan Die Hoorn.
Sy is ook die koördineerder van die CCS kliniek by Van der Rietstraat 39 waar die breë gemeenskap met behulp van die veearts wat sy gemeenskapsdiensjaar doen en ACT SA die mense help met sterilisasies, inentings en wonde van diere.
“Dis werklik skokkend wat daar buite aangaan en waarmee ons op ’n daaglikse basis te doen kry,” sê sy. Sy en Magda Davel, skutmeester van die Oudtshoorn Skut, was juis op pad na ’n klagte toe sy met Die Hoorn gesels.
Sy verduidelik verder dat honde val ander honde aan en ook kinders en selfs mense wat net bloot langs die pad loop. Dit is gewoonlik jong seuns wat met pit bull-honde, met of sonder leibande in die namiddag stap.
Wanneer ander honde vir hulle blaf, word hul aangeval, soms in die hond se eie erf of deur die heining geruk.
“Wanneer so geval oor ’n naweek gebeur en die dier word na ons gebring vir hulp, is dit soms dae later en is die wond al vrot met maaiers wat daarin broei,” vertel sy.
Hul help dan die dier sover moontlik, maar soms word die besluit gemaak om eerder die hond uit te sit na die operasie omdat die skade al te groot is.
“Ons sit meer as 15 diere ’n maand uit, soms tot vier per week,”.
Hulle dink honde wat kinders aanval word geleer om kwaai te wees en die oomblik wat daar ’n dier of kind binne bereik is, val hulle aan.
Ander kere word honde deur kinders getart en met klippe gegooi of met stokke geslaan en dan val hulle kinders aan.
Daar is selfs gevalle waar die honde uitgehonger word, en sodra ’n persoon of kind met kos naby die hond kom dan gryp die hond na die kos en byt die persoon ook raak.
Verskeie kere is diere met wonde na hul gebring waar die eienaar sogenaamde huisraat probeer en die wonde met kookolie, en soms kookwater behandel.
Daar was ook al gevalle waar die eienaars van die beseerde honde sommer self die hond uitsit deur hom met ’n mes te steek en die hond dan doodgaan en hy weggegooi word op die vullishoop.
En die voorvalle raak net meer. In baie gevalle word die Polisie en Wetstoepassers ook genader en kriminele klagtes teen individue gelê.
Wat moet jy doen as van jou diere deur ’n hond gebyt word? Skakel die beheerkamer by 044 203 3000 en vra die skakelbord om jou deur te skakel na Magda Davel, Oudtshoorn se skutmeester.
Sy sal dan die adres kry. Sou daar nie ’n voertuig beskikbaar wees nie sal Davel met een van die diere-organisasies op die dorp skakel en uitstuur na die adres. Die dier word dan na die CCS Kliniek geneem waar die dier behandeling en medikasie sal ontvang teen ’n goedkoper tarief, of selfs gratis sou die eienaar nie die dienste kan bekostig nie.
Die CCS kliniek het ongelukkig nie oornag-fasiliteite nie, maar Davel sal die dier gaan oplaai en neem vir opvolgbesoeke en behandelings.
Alternatiewelik kan Swiegers by die CCS Kliniek op 082 498 0177 gekontak word. (Deur Angelique Erasmus)
Aanvalle deur honde algemeen
Bo ’n Hond wat deur ’n ander een aangeval is en na die CCS Kliniek geneem is vir behandeling. Foto verskaf