Die skoknuus dat daar twee tref-en-trap-insidente verlede naweek in Oudtshoorn en Van Wykskraal was, het die gemeenskap in ongeloof en getraumatiseerd gelaat.
In die eerste insident is die 72-jarige Booi Okkers, op die N12 by Van Wykskraal deur ’n motor getref. Hy het veelvoudige bese-rings opgedoen en is deur paramediese op die toneel dood verklaar.
Leon Campher, Oudtshoorn Raadslid, gemeenskapsleier en stigter van die OCAC (Oudtshoorn Community Against Crime) het tydens ’n kransleggingsdiens Dinsdag gesê dat Okkers deur sy kleinseun(27) doodgery is.
Volgens ’n mediaverklaring van sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, ondersoek hul ’n klag van manslag, en bestuur onder die invloed teen die bestuurder.
In die tweede voorval is die 18-jarige Sharlaine Lamont, ’n matriekleerder aan Hoërskool Môrester Sondagoggend omstreeks 02:50 in Dassieweg, in Bridgton deur ’n motor getref.
Haar kêrel Ralston Bezuidenhout, is ook in die voorval raakgery en beseer.
Volgens Chris Spies, is beide na die hospitaal geneem, en het veelvoudige beserings opgedoen. Shalaine is later in die hospitaal aan haar beserings oorlede.
Die bestuurder van die voertuig, het van die toneel af weggery. Daar word vermoed dat die voertuig moontlik ’n donkerblou Volkswagen Polo kan wees. Enige persoon met inligting word versoek om met sers Gregory Veldsman, die ondersoekbeampte in die saak, kontak te maak op 044 203 9200 of 079 894 1897.
Die Hoorn het met Lamont se familie gesels.Volgens Subeira Maswattie, Lamont se ouer suster, het Sharlaine se kêrel en die pa van haar 18 maande oue baba, sy heup gebreek, en het hy swelling op die brein. Hy is Woensdagoggend oorgeplaas na die George Hospitaal.
“My suster was baie lief vir netbal gewees en het baie uitgesien na haar matriekeksamens en wou goed doen sodat sy kon begin werk en na haar baba, Rushay Lamont versorg,” het Maswattie vertel.
Vriende naby aan die familie het opgemerk dat sy ’n ongelooflike goeie sin vir humor gehad het en lief was daarvoor om mense se siel uit te trek.
’n Hartseer toneel het hom Dinsdagaand afgespeel na die kransleggingsdiens van Sharlaine, toe haar dogtertjie by ’n foto van haar ma gehuil het en na haar gesoek het.
’n Leerder van haar skool het ook die kranslegging bygewoon, en ’n mooi emosionele boodskap gebring, terwyl nog een ’n gedig voorgelees het.
Die kranslegging is deur baie gemeenskapslede bygewoon, asook leerders van haar skool. Dit was ’n emosiebelaaide geleentheid.
Pastoor Hans Malgas het veral op die jonger mense wat teenwoordig was ’n beroep gedoen om die reguit pad te loop, eerlik te wees en reg te wees want hul weet nooit wanneer dit jou laaste oomblik is nie.
Sharlaine se begrafnis vind Saterdag by UCC Bridgton plaas om 10:00.
Piedro Klaasen (24) is op 25 Februarie vanjaar ook in Dassieweg oorlede na hy deur ’n motor raakgery is, en die bestuurder van die toneel af weggery het. Die bestuurder is steeds opsoek.
Twee sterf in tref-en-trap, een ernstig beseer
Van links: Sharlaine op haar matriekafskeid vroeër vanjaar, Middel: Sharlaine, haar dogtertjie Rushay en Ralston op haar 1ste verjaarsdag en regs Sharlaine se familie tydens Dinsdag se Kransleggingsdiens. Foto’s verskaf.