Die verhoor van Oudtshoorn se voormalige onderburgemeester, Mlandeli Nyuka (41), wat teregstaan op ’n klagte van seksuele aanranding, het uiteindelik verlede week in die Oudtshoorn streekhof begin na meer as ’n jaar, met die getuienis van die klaagster.
Nyuka, word daarvan aangekla dat hy op 27 September 2022 sy persoonlike sekretaresse in sy kantoor betas het, nadat hy die deure gesluit en haar die pos van kantoorbestuurder aangebied het.
Hy pleit onskuldig.
Die vrou getuig dat Nyuka haar die betrokke oggend na sy kantoor ontbied het om glo oor partysake te praat. Hy het volgens haar sekuriteitsbeamptes by die ingang na die burgersentrum opdrag gegee om niemand na sy kantoor te stuur nie.
Die klaer het voorts getuig dat sy Nyuka vertrou het omdat hulle aan dieselfde politieke party behoort het en sy hom in haar eie woorde, “strykdeur ondersteun het”. Daar was dus geen kwade gevoelens tussen hulle gewees nie.
Sy het getuig dat sy angstig geword het toe sy sien dat hy sy hande met saniteerder spuit, dit vryf en daaraan ruik.
Daarna het hy skielik haar rok opgetel en haar vagina, sitvlak en borste betas.
“Ek het hom weggestoot en weggekom toe die telefoon in my kantoor gelui en hy dit gaan beantwoord het.”.
Sy het in haar haas haar handsak vergeet en die trappe afgehardloop.
Volgens haar het sy erg gebewe en vir ’n rukkie buite die burgersentrum gaan staan voordat sy huistoe gestap het.
Sy het op ’n vraag van Nyuka se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, waarom sy nie geskree het toe hy die deure gesluit het nie, gesê dat sy hom vertrou het.
Die beskuldigde het haar glo ook uit die tronk gebel om verskoning te vra vir wat hy gedoen het.
Volgens Carelse sal Nyuka getuig dat daar wel probleme tussen hulle was en dit die rede is waarom sy die saak teen hom gemaak het.
Nyuka sal getuig dat sy hom om geld kom vra het omdat haar krag geblok was en die party iemand anders as kantoorbestuurder wou aanstel. Hy het haar gehelp en ook al haar salaris van R3 500 uit sy sak betaal. Hy sal ook getuig dat sy op ’n keer aan selfmoord gedink het. Hierop het sy geantwoord dat sy nie so siek soos hy is nie.
Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla en Mervan Saaiman verskyn vir die staat.
Nyuka is sedert September verlede jaar in aanhouding. (Deur Garnett Wicomb)
Verhoor begin na jaar teen onderburgemeester
Mlandeli Nyuka, Oudtshoorn onderburgemeester. Foto: Hoorn argief