Deur Garnett Wicomb
DAAR is geen getuienis voor die hof dat geld gesteel is nie en daarom behoort die beskuldigde vrygespreek en ontslaan te word, het Vaughn Shone, regsverteenwoordiger van Bennie de Wet, verlede week in die Oudtshoorn Streekhof gesê.
De Wet, ’n makelaar, staan tereg op sewe aanklagte van diefstal. Hy word daarvan aangekla dat hy by sewe geleenthede in 2007 en 2008 ’n totale bedrag van R863000 van die JJ Swart Testamentêre Trust gesteel het.
De Wet ontken die aanklagte teen hom. Volgens hom was dit goedgekeurde lenings van die trust wat hy ten volle met rente terugbetaal het.
Die boekhouer, Sakkie Basson, het vroeër tydens die saak onder kruisverhoor van Shone getuig dat dit ’n “lening”, en nie “diefstal” was nie.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die aansoek om ontslag teengestaan.
Volgens haar het De Wet as enigste trustee van die trust homself bevoordeel deur as trustee geld aan homself te leen.
Oor die verweer dat die eggenote van die oorledene hom toestemming gegee het om van die trust te leen het Plaatjies aangevoer dat sy nie geld gehad het nie. “Dit was die kinders van die oorledene se geld wat hy strydig met die Trustwet tot sy eie en sy seun se voordeel gebruik het.”
Shone voer aan dat hierdie optrede nie van De Wet ’n dief maak nie.
“Die Swart-kinders het elke sent, met rente, teruggekry en dit is nie korrek dat die beskuldigde die opset gehad het om te steel nie,” het Shone gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak tot 28 Maart uitgestel vir ’n beslissing ten opsigte van die aan-soek om ontslag.