SWD wen eendagwedstryd met 8 paaltjies

12 SWD Eendag krieketspan.

Deur Ben du Preez
DIE SWD se eendagkrieketspan (fo-to bo) het Saterdag sy wendroogte verbreek deur die span van Namibië oortuigend met agt paaltjies te klop. Die wedstryd is op die Rec gespeel.

Namibië, wat die loot gewen het, het 166 lopies in 49,2 boulbeurte aangeteken. Namibië se beste kolwers was Zane Green met 59 lopies en Craig Williams met 46.

SWD se beste boulers was Justin Jordaan (3/29), Siyabonga Booi (2/35) en Niel Hornbuckle (2/35).
’n Onoorwonne vennootskap van 145 lopies tussen Andrea Agathagelou en Hornbuckle het verseker dat SWD die wenteiken in die 42ste boulbeurt behaal het om met agt paaltjies te wen.

Agathagelou het 92 lopies, wat vier sesse en vyf viere ingesluit het, van 99 balle gemoker, en Hornbuckle 56 lopies, wat vier viere ingesluit het, van 121 balle aangeteken.

• So goed soos SWD in die een-dagwedstryd gevaar het, so swak het hulle in die Sunfoil driedagwedstryd gevaar.

Daar was darem een ligpunt vir SWD se vertoning, en dit was die puik boulwerk van Glenton Stuurman wat in die wedstryd 10 paaltjies vir slegs 51 lopies laat kantel het.

Die wedstryd, wat Donderdag en Vrydag op die Rec gespeel is, het opwindend begin deurdat SWD vir Namibië in sy eerste kolfbeurt vir slegs 44 lo-pies uitgeboul het. In dié beurt het Stuurman 7 paaltjies vir ’n skrale 12 lopies geneem.

SWD het die situasie egter nie benut nie deurdat die span vir slegs 88 lopies uitgehaal is.
In sy tweede beurt het Namibië 212 lopie aangeteken wat aan SWD ’n wenteiken van 170 gestel het. ­Stuurman het in dié beurt 3 paaltjies vir 39 lopies geneem.

SWD se kolwers is egter in hul tweede kolfbeurt almal vir net 98 lo­pies uitgeboul.