’n Man het vir sy lewe gevlug toe hy om aguur die oggend op 18 Junie by Wessels en Kie Grafsteenwerke in Rademeyerstraat, Oudtshoorn, ingehardloop het met twee booswigte op sy hakke.
Die man, wat anoniem wil bly as gevolg van dreigemente vanaf sy aanvallers dat hulle hom gaan kry en sy keel afsny, is enkele minute voor die voorval deur sy werkgewer betaal. Die aanvallers het gesien toe hy die geld ontvang, en die volgende oomblik het hulle hom aangeval.
Die man het by die grafsteenwerke ingehardloop met die hoop op beskerming teen die aanvallers. Daar het ’n geveg uitgebreek en die aanvallers het die man geslaan en geskop, terwyl hulle vir hom skree om die geld aan hulle te gee. Duné Kuyler van Wessles en Kie, was op daardie stadium saam met ’n kliënt in die kantoor gewees toe sy die bohaai in die werkswinkel hoor. Sy het dadelik die polisie gebel.
“Gelukkig is die manne wat by ons werk nie bang vir sulke moeilikheidmakers nie, en hulle het die twee manne vinnig verjaag.
Die polisie het ’n paar minute daarna opgedaag en die man veilig by sy huis gaan aflaai”, het sy aan Die Hoorn vertel. Sy het verder gesê dat dit vir haar hartverskeurend is dat mense se lewens so in gevaar kan wees, en dit oor R70 wat die man op ’n eerlike en hardwerkende manier verdien het. (Deur Lindi Brill)