’n Groep modelvliegtuig-entoesiaste het verlede week ’n Vrystaatse draai gemaak tydens die jaarlikse Gariep Fly-Inn.
Sowat 40 modelvliegtuigvlieëniers het die geleentheid bygewoon, waarvan sowat ses die lang pad en Vrystaatse koue aangedurf het, om op die Gariep Lughawe te vlieg en toertjies uit te voer.
Daar was ’n verskeidenheid vliegtuie, groottes en selfs vegvliegtuie wat nes die ware Jakob aanskakel en klink.
Meeste het die Dinsdag al die lugruim ingevaar en die windstil toestande geniet. Ongelukkig het die wind Vrydag besluit om die pret te bederf, maar daar is heerlik binne die vliegtuigloods gekuier, fyn verstellings aan vliegtuie gemaak en lekker stories en wenke uitgeruil.
Die wind het wel teen laatmiddag genoeg bedaar, en twee brawe vlieëniers kon ’n draai vlieg voor die son sak.
Die vliegtuie en hul vlieëniers is almal weer veilig tuis en in een stuk, met geen groot of ernstige ongelukke op die aanloopbaan nie.