Aandag val op swembaddens by raadsvergadering

Die kwessie oor Oudtshoorn se munisipale swembaddens, en veral die NA Smit Swembad wat as venue vir talle groot swem- en tweekampbyeenkomste dien, het vandag (Maandag, 31 Januarie) aandag geniet by ’n Groter Oudtshoorn Munisipaliteit spesiale raadsvergadering.

Raadslid Johan Allers van die VF Plus het ‘n dringende mosie ter tafel gelê dat daar onmiddelik aandag aan die toestand van veral die NA Smit Swembad gegee moet word voordat organiseerders van byeenkomste besluit om elders heen te gaan, soos byvoorbeeld George.

Volgens Allers se mosie moet die Munisipaliteit dringend aandag gee aan munisipale sportgeriewe, moet ’n komitee saamgestel word uit moontlik die munisipale bestuurder en ander raadslede om in gesprek te tree met sportliggame oor hoe kwessies so spoedig moontlik aangespreek kan word, moet die munisipale bestuurder ondersoek instel na die bestuur van hierdie geriewe, en moet daar veral vroegtydig gekyk word na die toestand en kwaliteit van die NA Smit Swembad voor byeenkomste om te verseker dat die Munisipaliteit betyds kan ingryp indien nodig en nie verdere byeenkomste verloor nie.

Die mosie is gesekondeer deur raadslid Christina Muller, en is nie teengestaan nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)