Vier mans is in die bestek van net meer as twee weke gesamentlik 95 jaar gevangenisstraf opgelê nadat hulle in die Oudtshoorn Streekhof aan skuldig bevind is aan verkragting.
Die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, lt-gnl Thembisile Patekile, het die opsporings- en vervolgingspanne geloof vir hul werk wat tot dié vonnisse gelei het. Lt-genl Patekile het gesê: “Hierdie skuldigbevindings en lang vonnisse van diegene wat die veiligheid van die samelewing bedreig het, behoort as afskrikmiddel te dien vir sulke oortreders. Die samelewing is baie veiliger met hulle in die tronk.”
Jeremy Isaacs (36) is op 16 Februarie 2022 tot 25 en 20 jaar gevangenisstraf gevonnis ná sy skuldigbevinding op twee aanklagte van verkragting. Die hof het bevind die slagoffer het Isaacs in haar vertroue geneem toe sy op 9 Februarie 2020 saam met hom huis toe gestap het.
Dawid Herman (21) en Anton May (40) is in twee afsonderlike sake elk tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hulle op 22 Februarie skuldig bevind is aan verkragting in onderskeidelik 2018 en 2021.
’n 27-jarige man is op 4 Maart tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die verkragting van ’n 34-jarige vrou op Dysselsdorp.
