6 SAMWU lede op spesiale verlof geplaas

SANWU lede wou nie raadslede toelaat om die raadsaal te verlaat tydens ’n raadvergade-ring op 22 September tot hul memorandum voorgelees is nie. Foto: Heinrich Bosman

Ses Lede van SAMWU (Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie) is op spesiale verlof geplaas.

Dit volg nadat lede van die unie op 22 September tydens ’n raadsvergadering die raadsaal binnegegaan het, en raadslede nie toegelaat het om die saal te verlaat tot hul ’n memorandum aan die Burgemeester voorgelees het nie.

Op 2 Oktober het Oudtshoorn se Burgemeester, Chris Macpherson aan SAMWU ’n skrywe gerig waarin hy hul versoek om bewyse vir die bewerings in hul memorandum genoem aan hom te verskaf sodat hy ’n ondersoek kan las. Macpherson het aan hul kans gegee tot Vrydag 6 Oktober om 12:00 om die bewyse aan hom te gee.

In ’n antwoord op die bogenoemde skrywe vanaf SAMWU word daar geskryf dat die burgemeester volgens hul, versuim om sy plig as burgemeester uit te voer deur nie die aangeleenthede in hul memorandum te ondersoek nie. “It is simply required of the mayor to do his due diligence and request the information from the Accounting Officer to fulfil his obligation towards clean and transparent governance.” Lui ’n gedeelte van die brief wat deur Erik Moos, voorsitter en Aymore Sylverster, sekretaresse van SAMWU onderteken is.

’n Navraag is aan die Oudtshoorn Munisipaliteit gestuur.

Die Hoorn het die volgende vanaf Aurlia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit ontvang aangaande die bogenoemde saak.

“Met betrekking tot amptenare binne ons munisipaliteit. As deel van die interne prosesse waarby die SAMWU-lede betrokke is, is hulle op spesiale verlof geplaas totdat hulle interne verhore plaasvind. Aangeleenthede wat ons amptenare betref, val binne die bestek van ons interne prosesse.

Ons het prosedures en protokolle in plek om enige kwessies wat mag ontstaan binne ons organisasie, insluitende dié wat met ons werknemers verband hou, aan te spreek.

Volgens wettige regulasies is ons verbied om inligting rakende amptenare bekend te maak, met ’n hoogste verpligting om hul privaatheid te beskerm,” sluit die verklaring af.