MET gesondheidswerkers van die Groter Oudtshoorn en Kannaland wat vandeesweek op Oudtshoorn die Covid-19-entstof ontvang het, kan inwoners bo 60 hulle ook gereed maak om eersdaags die entstof te ontvang.
Gesondheidswerkers in Suid-Afrika ontvang tans die Johnson & Johnson-entstof as deel van die Sisonke-navorsingsprojek. Diegene wat dié entstof ontvang, hoef slegs een inspuiting te kry.
Volgens Helen Human, die Departement Gesondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik, sluit gesondheidswerkers ’n wye groep mense in, soos byvoorbeeld ook gemeenskapsversorgers, asook gesondheidswerkers by ouetehuise, ander tehuise en by siekeboë, soos by die siekeboeg van die SANW.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete, word daar reeds in die streek voorbereidings getref vir Fase 2 van die inenting waarvoor mense van 60 jaar en ouer in aanmerking kom.
Die Groter Oudtshoorn en Kannaland val onder die Tuinroete-streek.
“Die voorlopige verwagte datum vir die begin van Fase 2 is 17 Mei 2021. Hou asseblief die media dop vir meer inligting oor die lokale, datums en tye van inentings,” sê Ferreira. Sy het mense van 60 jaar en ouer aangemoedig om te registreer vir die entstof. Meer inligting oor die registrasieproses verskyn onderaan die berig.
Registreer so vir die Covid-19-entstof as jy 60 jaar of ouer is
- Gaan na https://vaccine.enroll.health.gov.za
- Volg die stappe en voltooi jou registrasie. Jy sal onder meer vir jou selfoonnommer en adres gevra word.
- Jy sal hierna ’n SMS ontvang om jou registrasie te bevestig.
- Wanneer dit jou beurt is om die vaksiene/inenting te ontvang sal jy ’n SMS ontvang met die inligting wanneer en waar jy ingespuit sal word. (Deur Liesel le Roux)
