5 jaar tronkstraf al pleit vriendin

TEN spyte van die feit dat Piet Meyer (44) van Oudtshoorn se vriendin ge­pleit het vir ’n ligter vonnis, het die hof verlede week beslis dat Meyer vyf jaar tronkstraf moet kry vir aan­ran­ding om ernstig te beseer en poging tot verkragting.

Meyer, met 12 vorige veroorde­lings teen hom, het in die streek­hof erken dat hy sy saamleefmaat met ’n graaf geslaan en probeer verkrag het.

Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy het die betrokke dag vier liter Bonniestein-wyn gedrink en was baie dronk. Hy kon nie onthou wat gebeur het nie, maar het nie gestry dat die voorval wel kon plaasvind nie. Hy het gesê hy is baie jammer en dat hy verstaan dat hy ge­straf moet word.

Meyer se saamleefmaat wat die saak wou terugtrek, het die hof gevra om Meyer ’n opgeskorte vonnis te gee omdat hy vir haar en sy tienjarige gestremde kind sorg. Volgens haar het hy sy le­we omgekeer – “hy drink nie meer Bonniestein nie, maar net ’n biertjie oor naweke”. Volgens haar is Meyer “baie goed vir haar”.

Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof gevra om direkte tronk­straf te oorweeg omdat dit die enigste ge­paste vonnis is en ’n ander vonnis ’n verkeerde boodskap sal uitstuur.

Dit was volgens Arnolds die twee­de keer dat die vrou hom aangekla het en ook die tweede keer dat sy die hof vra om klagtes teen hom te laat vaar. Sy het self drie kinders wat deur haar ma grootgemaak word.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dat ’n op­geskorte of korrektiewe toesigvonnis nie gepas sal wees nie.

Meyer is reeds vroeër onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)