Oudtshoorn se Volkskerk van Afrika vier 95 jaar op die dorp

Die oudste gemeentelid van die Volkskerk van Afrika op Oudtshoorn, Jannetjie Meyer (100), het die feesfakkel aangesteek. Foto: Garnett Wicomb

GEMEENTELEDE van die Oudtshoorn Volkskerk van Afrika het dié kerk se 95ste verjaardag die afgelope naweek op luisterryke wyse gevier.

Die kerk is slegs vyf jaar jonger as die Volkskerk van Afrika, wat vanjaar 100 jaar oud is.

Die vise-moderator van die kerk, ds Leon Smith van Belgravia, was die fees­prediker. Hy het die gemeente geluk gewens en hulde gebring aan die stigters en oud-leraars.

“Ons staan vandag op die skouers van manne en vroue wat onverskrokke ge­staan en onbaatsugtige diens gelewer het sodat ons vandag hier kan wees en fees kan vier,” het Smith Saterdagoggend met die opening van die fees gesê.

“Ons leef egter nou in donker tye en die gemeente moet ’n nuwe sangstuk leer sing. Tye het verander en dit is tyd vir nuwe dinge. Dit is tyd vir hande vat en die Oudtshoorn-gemeente moet ’n voorbeeld wees vir die distrik en die kerkgemeenskap.

“Dit is nou tyd vir almal om hand aan die ploeg te slaan en ook ’n nuwe lied van protes te sing teen ’n regering wat nie omgee vir sy mense nie.”

Smith het by Sondag se dankseggingsdiens, met as tema “Gee my jou hand”, verwys na 2 Konings 10. “En wanneer ons mekaar die hand gee moet ons me­kaar in die oë kyk. Die gemeente moet hande vat sodat die kerk kan voortbestaan vir die volgende 95 jaar.”

Die diens het begin met die aansteek van die feesfakkel deur die oudste ge­meentelid, Jannetjie Meyer, en ’n kranslegging vir al die onslape gemeenteleiers en predikante. Spesiale hulde is gebring aan die kerk se laaste twee leraars, wyle ds Pieter Pietersen (1972 – 1989) en emeritus ds Samuel du Plessis (2000 – 2022).

Du Plessis, wat verlede jaar die tuig neergelê het, het die gemeente na aanleiding van Openbaring 21:23 gelukgewens.

Ds Neil Smith van die Mosselbaai Lutherse Kerk het die gemeente gevra om nie mense soos Jurie Piedt, Natie Wicomb en Stoffel Willemse te vergeet wat diep spore in die kerk getrap het nie. (Deur Garnett Wicomb)