VANDEESWEEK gesels Die Hoorn met Jaco Erasmus, boorling van Oudtshoorn en saam met sy vrou, Angelique, mede-eienaar van die koerant.
Jaco is in 1981 op Oudtshoorn gebore. Hy het hier skoolgegaan; eers by die Laerskool Oudtshoorn-Noord (vandag bekend as Laerskool Laurus) en het daarna sy hoërskoolloopbaan aan Langenhoven Gimnasium voltooi, waar hy ’n tegniese rigting gevolg het.
Jaco is nie net ’n gekwalifiseerde pas- en-draaier nie, maar ook motorwerktuigkundige.
Hy werk al sedert 2009 in Irak.
Jaco is baie handig, en kan nie net aan motors werk nie, maar ook verskeie goed bou, verander, modifiseer of net wat nodig is doen om dit beter te laat werk!
Hy is ook baie goed aangelê wanneer dit by rekenaars en tegnologie kom en hou daarvan om nuwe en beter maniere te ondersoek om ’n ding te laat werk.
In sy vryetyd ry hy graag fiets, soos wanneer hy by die huis op Oudtshoorn is met vakansies.
Wanneer hy egter in Irak is, oefen hy in die gimnasium om fiks te bly omdat hy nie daar kan fietsry nie.
Hy vlieg ook graag modelvliegtuie wanneer hy kans kry daarvoor, en bou en werk graag aan hulle wanneer hy by die huis is.
Jaco het ’n baie groot liefde vir diere, met sy gunstelinge sy gesin se St Bernard, Klara, en die Jack Russell, Chippie, wat hom oral soos ’n skaduwee volg.
Sy ouers woon steeds albei op Oudtshoorn.
Sy pa Jannie werk nog fluks as elektrisiën, én speel Sondae in die kerk dromme.
Sy ma, Tienie, het baie jare vir Telkom gewerk, maar sorg deesdae dat alles vlot by die huis verloop.
Alhoewel Jaco nie in Suid-Afrika en by Die Hoorn is nie, is hy baie betrokke by elke aspek van die koerant en gee hy baie raad en advies wat van onskatbare waarde is.
Hopelik kan hy eendag nie te ver in die toekoms nie ook volstoom fisiek by Die Hoorn se span inval en nie net via video-oproepe saamwerk en help nie!
Aangename Kennis: Ontmoet Jaco Erasmus, mede-eienaar van Die Hoorn!
