Inwoners brand bande, versper pad vir behuising

Inwoners van Black Joint, GG Kamp en Kanaal op Oudtshoorn het Vrydag (10 Maart) brandende voorwerpe en klippe in die pad geplaas om te betoog. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

INWONERS van die Black Joint-, GG Kamp-, en Kanaal-gemeenskappe op Oudtshoorn het Vrydag (10 Maart) betoog deur bande en ander voorwerpe te brand en klippe in die pad te pak in die Black Joint-omgewing.

Hul probleme het onder meer te doen met dienslewering, kwessies oor chemiese toilette en beloftes oor materiaal vir behuising wat nie nagekom is deur die Oudtshoorn Munisipaliteit en die wyksraadslid van die gemeenskap nie, volgens Devon Julies, die woordvoerder vir die gemeenskappe.

Volgens Julies wil die gemeenskappe weet waar geld wat in 2016, vir behuising aan hulle bewillig is heen verdwyn het. “Dit reën by die ‘hokke’ in en die munisipaliteit gee nie om nie. Ons het al geskryf vir hulle en hulle ‘recognise’ ons nie. Ons het jarelank al met die munisipaliteit gepraat, selfs drie of vier maande terug, en hulle het nog nooit na ons toe gekom nie,” het hy gesê.

Julies het gesê dat die gemeenskap op die optrede besluit het juis omdat die munisipaliteit nog nooit na die gemeenskap geluister het, of met die gemeenskap in gesprek getree het nie.

Hy het bygevoeg dat die gemeenskap, deur middel van ’n forum, meer onlangs met die burgemeester, munisipale bestuurder, onder-burgemeester en hul wyksraadslid – Zoe Tyatya (ANC) – probeer praat het.

“Hulle het gesê ons moet met ons wyksraadslid praat, en hy het vir die munisipaliteit goed deurgestuur, maar ons het nou nog nie terugvoer ontvang nie,” het Julies gesê.

Volgens nog ’n inwoner, Sharon Hendricks, is daar met die 2016-begroting toestemming gegee om behuising in die gemeenskappe te bou, maar niks het daarvan gekom nie.

Hendricks het gesê dat die wyks-raadsslid die dag voor die optog in die gemeenskap was. “Ons het saam met hom geloop, en daar was beloftes gemaak dat hulle vir ons materiaal gaan bring om ons dakke reg te maak. Laatmiddag toe laat hy ons weet dat daar te veel mense in die plakkerskamp is, en dat hulle nie vir almal materiaal kan gee nie. Maar hulle het steeds die belofte gemaak,” het sy gesê.

Beide Julies en Hendricks het gesê dat hulle volgens hul raadslid ’n opname moes maak van almal wat boumateriaal, soos byvoorbeeld sinkplate, benodig het en dat hulle hierdie lys wel saamgestel het. Volgens die inwoners het niemand van die munisipaliteit hulle kom toespreek nie, al het hulle vir munisipale verteenwoordigers gewag.

Burgemeester Chris Macpherson het gesê dat die munisipaliteit nie ingelig is oor die rede van die betoging nie. “Volgens inligting wat wel ontvang is, het die betoging plaasgevind oor behuisingskwessies. Dit is belangrik vir die gemeenskap om kennis te neem dat die voorsiening van behuising deur die provinsiale regering hanteer word en nie deur die munisipaliteit nie aangesien dit nie ’n funksie van plaaslike regering is nie,” het hy gesê.

Luidens ’n verklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit het die betoging te doen met opsetlike opstokery.

“Openlike dreigemente teen die uit- voerende burgemeester, Chris Macpherson; onderburgemeester, Vlancio Donson; Speaker Johan Allers en waarnemende Munisipale Bestuurder, Walter Hedricks van die Groter Oudtshoorn, sowel as aanhitsing tot geweld deur sekere individue en groepe word in ’n uiters ernstlige lig beskou. Die insidente en dreigboodskappe van die afgelope twee weke is oortredings van die wet en word dienooreenkomstig hanteer,” lui die verklaring.

Volgens die Munisipaliteit word inlig-ting ten opsigte van spesifieke individue reeds op hoë vlak aan die Suid-Afrikaanse Polisie Diens (SAPD) oorhandig en verlede week is die versekering gegee dat dit ondersoek sal word. Daar word ook tans klagtes voorberei wat teen spesifieke persone aanhangig gemaak sal word,” het die Munisipaliteit gesê.

In die verklaring meld die Munisipaliteit dat boodskappe wat onder andere lui dat “die burgemeester uitgehaal sal word” verlede week wyd versprei is. Die burgemeester, speaker, onderburgemeester en waarnemende Munisipale Bestuurder wil dit volgens die verklaring duidelik stel dat hulle nie deur ekstremiste en individue met persoonlike agendas wat demokratiese prosesse en wetgewing minag, geïntimideer sal word nie.

“Mense wat hulle aan hierdie optredes skuldig maak, moet kennis neem dat die munisipaliteit volgens duidelike prosesse wat deur die grondwet bepaal word, optree en die versekering gee dat daardie bepalings gehandhaaf sal word. Platforms wat individue en groepe vir hulself wil skep sal nie ondersteun word nie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)