13-jarige van Jeffreysbaai tydens kamp hier aangerand

DIE Oudtshoorn eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek tans ’n saak van verkragting nadat ’n 13-jarige seun van Jeffreysbaai na bewering deur drie van sy skoolmaats tydens ’n skoolkamp op Oudtshoorn aangerand is.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die insident tussen 28 Februarie en 2 Maart vanjaar by ’n oord in die Oudtshoorn-omgewing plaasgevind.

“Ondersoek na hierdie saak is in ’n baie vroeë stadium.

“Meer inligting sal beskikbaar gestel word soos die ondersoek ontvou,” het hy aan Die Hoorn gesê.

Die slagoffer, wat volgens HeraldLIVE – The Herald, die webblad van ’n nasionale publikasie, ’n leerder is van die Jeffreysbaai Primêre Skool, was veronderstel om ’n prettige graad 7-kamp op Oudtshoorn by te woon, maar hierdie belewenis het in ’n gewelddadige ondervinding ontaard en die slagoffer en sy familie getraumatiseer gelaat.

Luidens HeraldLIVE se berig word drie seuns tans ondersoek in verband met die bewerings, maar is die presiese aard van die insident onduidelik.

Die Oos-Kaapse departement van onderwys en die Jeffreysbaai Gesinsgeweld, Kin­derbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid is volgens die berig bewus van die insident.

In die HeraldLIVE-berig word die skool se beheerliggaam-voorsitter, PJ Alberts, aangehaal.

Hy het volgens die berig gesê dat die insident eers gerapporteer is toe die graad 7’s op 5 Maart in Jeffreysbaai gearriveer het.

“Niks is aan die personeel wat die leerders vergesel het genoem nie,” het hy aan The Herald se joernalis gesê.

Volgens Alberts was die personeel wat op die kamp was, bevoeg.

Luidens die berig sê die woordvoerder van die Oos-Kaapse Departement van Onderwys, Malibongwe Mtima, dat die drie verdagtes na bewe­ring die slagoffer seksueel aangerand het.

Hy het gesê dat die slagoffer sy ouers van die insident vertel het toe die leerders tuisgekom het en dat die insident onder die skool se aandag gebring is.

Die drie beweerde oortreders is volgens die berig geskors.

Luidens die berig het al die ouers wie se kinders betrokke was by die voorval regsverteenwoordigers aangestel, insluitend twee advokate.

Die nasionale Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole het ook intussen by die saak betrokke geraak. ’n Dissiplinêre verhoor sou volgens die berig binne sewe dae by die skool plaasvind.

In die berig word die skoolhoof, Herman Vogel, aangehaal.

Volgens Vogel is die skool besig met ’n ondersoek, en sien die skool die bewerings/aantuigings in ’n ernstige lig. Hy wou nie verder uitbrei nie.

Die Hoorn het Dinsdag (14 Maart) met die skool, Oos-Kaapse departement van onderwys en The Herald probeer kontak maak, maar hierdie pogings was onsuksesvol. Sodra veredere inligitng of kommentaar beskikbaar gestel word, sal Die Hoorn dit publiseer. (Deur Stefan Skapie Goosen)