3de messteekvoorval in drie weke op Oudtshoorn

Heinrich Roman (18). Foto verskaf

IN die derde messteekvoorval in drie weke op Oudtshoorn is die 18-jarige Heinrich Roman na ’n messteek in sy bors oorlede.

’n 26-jarige verdagte is reeds op ’n klagte van moord in hegtenis geneem.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Roman Sondag (7 Maart) in Johansenstraat, Bongolethu met ’n mes gesteek.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle die 18-jarige oor­le­dene met een steekwond in sy bors gekry. Hy is op die toneel deur ambulanspersoneel dood verklaar.”

Daar is wel fluisteringe in die ge­meenskap dat die dood van Roman moontlik beplan was. Volgens ’n anonieme bron, wat gevra het om nie geïdentifiseer te word nie, is die ver­dagte onlangs uit die tronk vrygelaat en het hy daar ’n opdrag ontvang om Roman dood te steek weens ’n geskil oor ’n meisie.

• Na aanleiding van die eerste messteekvoorval op Sondagaand 21 Februarie ondersoek die Oudtshoorn Polisie ’n saak van poging tot moord na ’n bakleiery in Zebraweg, Bridgton. ’n Verdagte is reeds in hegtenis geneem.

• Die tweede voorval was op Saterdag 27 Februarie toe Ashrodeen Malgas (26) van Bridgton in die vroeë oggendure dood is nadat hy drie keer in sy bors gesteek is na ’n beweerde stryery oor sigarette. Die voorval het omstreeks 0:45 op die hoek van 21ste en 9de Laan plaasgevind. ’n 26-jarige man van Bridgton is op ’n klagte van moord in hegtenis geneem. (Deur Stefan Skapie Goosen)