Deur Angelique Erasmus
DRIE vroue wat Vrydag in ’n voorval betrokke was by die klerewinkel Pep Stores op die hoek van Hoog- en St Johnstraat op Oudtshoorn, het Maandag in die landdroshof op die dorp verskyn op ’n aanklag van opsetlike saakbeskadiging.
Uyuwa Blom (33), Yolanda Jack (39) en ’n 17-jarige meisie word aangekla van opsetlike saakbeskadiging en aanranding. Hulle is Vrydag na ’n skermutseling in die winkel in hegtenis geneem. Die 17-jarige se naam word weerhou omdat sy minderjarig is.
Volgens hul regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die drie vroue op hul beurt ’n klag van aanranding teen ’n werknemer van die besigheid ingedien.
Blom en Jack is steeds in aanhouding en sal op 6 November hul aansoek bring vir borg. Die 17-jarige meisie is deur landdros Theolin November op waarskuwing vrygelaat.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die skermutseling tussen die drie vroue en werknemers van die winkel Vrydagmiddag omstreeks 15:45 plaasgevind.
Visser sê dit wil voorkom of klante wat die winkel verlaat het, later teruggekeer en ’n glasdeur stukkend gegooi.
“Een van die winkel se werknemers is beseer nadat hy gebyt, geskop en geslaan is,” sê Visser.
Die Hoorn kon nie daarin slaag om met die maatskappy se mediakantoor kontak te maak nie en was teen druktyd steeds onsuksesvol.
Tuba Nyamate verskyn vir die staat.