Bo: Lohan Oosthuizen (Wispernet) en Harry Coetzee (Black List Security) voor die Queen’s Mall.
Onder: De Villiers Neethling. Foto’s verskaf

’N KAMERASTELSEL met die nuutste tegnologie is pas in en rondom die Queen’s Mall op Oudtshoorn geïnstalleer. Die kameras word 24 uur van die dag deur die sekuriteitsfirma verantwoordelik vir dié winkelsentrum se sekuriteit, Black List Sekuriteit, gemoniteer.
Die Queen’s Mall en ander besighede op die dorp was die afgelope tyd die teiken van misdadigers van elders wat Oudtshoorn toe gekom het om te steel en te roof.
De Villiers Neethling, besturende direkteur van die Queen’s Mall, het aan Die Hoorn gesê ’n veilige en misdaadvrye inkopie-ervaring by die Queen’s Mall is vir die einaars van dié winkelsentrum ononderhandelbaar, en dat daar daarom besluit is om saam met die sekuriteitsdiens by die sentrum ook ’n kamerastelsel te installeer. Hul vennote in dié projek was Wispernet en Black List Sekuriteit.
Volgens Lohan Oosthuizen van Wispernet voer hulle reeds saam met Black List Sekuriteit gesprekke met sakelui oor die moontlike uitbrei-ding van soortgelyke kamerastelsels na ander plekke op die dorp.
Hy sê sy firma het ’n groot internetnetwerk in die Klein Karoo en is reeds jare lank betrokke by Licence Plate Recognition (LPR)-kameras op nasionale paaie. Hulle het onlangs op strategiese plekke in Oudtshoorn soortgelyke kameras in samewerking met Agri Klein Karoo oopgerig.
Die LPR-kameras maak deel uit van ’n nasionale netwerk wat voertuie moniteer en inligting na die SAPD en buurt- en plaaswagte stuur indien ’n verdagte of vermiste voertuig opgemerk word.
So is twee voertuie wat onlangs gebruik is by diefstal in die Queen’s Mall nog dieselfde dag met die hulp van LPR-kameras opgespoor waarna insittendes in hegtenis geneem is.
Hy sê beplanning om nog LPR-kameras in die Klein Karoo te installeer het reeds ver gevorder en sal bydra tot die voorkoming van misdaad in die streek.