23 jaar tronkstraf vir man wat R400 000 van sy stiefoupa steel

’N 28-JARIGE man van Mosselbaai wat erken het dat hy aan dwelms verslaaf was en sy stiefoupa se kluis met R400 000 kon­tant, ’n pistool en ammunisie daarin gesteel het, is Woensdag (1 Desember) in die Oudtshoorn Streekhof vir altesaam 23 jaar tronktoe gestuur.

Donovan du Toit het skuldig gepleit en is skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal asook weens die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettuige besit van ammunisie.

Sy stiefoupa, die Petrus Fourie (97) van Oudtshoorn, ’n oud-onderwyser, het op ’n vraag van die staatsaanklaer, Hyron Goul­ding, oor wat hy dink ’n gepaste vonnis sal wees, gesê hy weet die hof is reg­ver­dig en dat Du Toit “behoorlik gestraf moet word sodat hy in die tronk oor sy sondes kan dink en besef dat ’n mens nie moet steel om ’n lewe te maak nie.”

Du Toit het in ’n pleitverduideliking er­ken hy en sy 17-jarige broer het die kleinerige kluis gesteel en in die veld oopgekap het, maar in die hof getuig dat hy ’n sakeman van Oudtshoorn R30 000 betaal het om dit oop te kry. Hy het nooit die geld getel nie, het hy getuig.

Die hardhorende Fourie het Woensdag breedvoerig getuig dat hy die R400 000 oor byna 60 jaar gespaar het en nie ’n sent daarvan teruggekry het nie.

Goulding het die hof vir ’n vonnis gevra wat nie net vir Du Toit wie maar ook andere sal afskrik. Volgens die staat is die misdaad ook fyn beplan. Die beskuldigde het sy ouma gebel dat sy ’n pakkie by iemand in die straat moes gaan kry. Hy en sy broer is toe die huis binne en het die kluis verwyder.

Streeklanddros Ntsoki Moni het gesê Du Toit is skuldig aan baie ernstige misdrywe.

Hy het werk gehad en dit was nie nodig om ’n ou man se swaarverdiende geld te steel en uit te mors nie.

Hy is 13 jaar tronkstraf opgelê vir diefstal en 10 jaar op die twee ander klagtes.

Die hof het ook ’n vergoedingsbevel gelas vir die verkoop van alles wat Du Toit gekoop het, waaronder ’n motor, motorfiets en twee duur selfone, en dat die geld aan die klaer besorg word. (Deur Garnett Wicomb)