Martie Roos (links) en Raymie Alberts (regs) saam met Colan Sylvester aan wie hulle ’n petisie oor straatkinders oorhandig het. Foto Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
SOWAT 150 inwoners van Oudtshoorn het verlede Donderdagaand ’n simposium oor die dorp se straatkindprobleem en moontlike oplossings daarvoor in die Burgersentrum op die dorp bygewoon.
Onder die teenwoordiges was sakelui, mense in die toerismebedryf, lede van die publiek en verteenwoordigers van die munisipaliteit.
Tydens die geleentheid is ’n petisie met sowat 1 400 handtekeninge daarop deur twee inwoners, Raymie Alberts en Martie Roos, aan Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, oorhandig, waarna Dennis Nghonyama, areabestuurder van die Departement Maatskaplike Ontwikkeling (Eden en Karoo), ’n voorlegging oor die straatkinders gedoen het.
Nghonyama het benadruk dat die grootste probleem eintlik die kinders se ouers is wat nie na hul kinders kyk nie.
Volgens hom sluit probleme met die kinders op straat die volgende in:
• Baie van die kinders op straat gaan nie skool nie en is reeds ’n geruime tyd uit die skool. Volgens die skolewet is skool verpligtend vir kinders tussen sewe en 15 jaar. Van die kinders is egter reeds ouer as 18 jaar, maar lyk jonger.
• Dwelms is beskikbaar en word gebruik, soos die snuif van gom en petrol.
• Die kinders bedel vir geld, of raak betrokke by misdaad deur diefstal te pleeg.
• Party gee voor hulle is karwagte.
• Hulle baklei onder mekaar en gooi klippe in die openbaar.
• Soms is hul in die geselskap van ouer mans wat hul gebruik vir hul eie agenda.
• Daar is ’n bose kringloop met ouer kinders wat jonger kinders werf en op straat hou.
Volgens Nghonyama is van die uitdagings ten opsigte van straatkinders dat van hulle nie kwalifiseer vir ingrypprogramme nie, en dat baie van die kinders wat wel kwalifiseer nie die programme voltooi nie.
Kinders wat misdaad pleeg, kwalifiseer nie vir van die ingrypprogramme nie, en keer terug na die strate nadat hulle hul straf uitgedien het.
Die teenwoordiges kon later by een van vier besprekingsgroepe aansluit en moontlike oplossings bespreek. Die groepe was maatskaplike ontwikkeling; wetstoepassing; toerisme en werk- skepping en onderwys en vaardigheidsontwikkeling.
Van die besprekingspunte is later aan die hele groep voorgelê. ’n Samevatting van die vergadering sal per e-pos aan almal uitgestuur word en ’n opvolgvergadering binne ’n maand gereël word.