Dreigemente, modder, 8 Mei

Liesel le Roux

Met die nasionale en provinsiale verkiesings wat oor minder as ’n maand plaasvind, is daar tans landwyd ’n toename in onrus, betogings, bewe­rings en openbarings oor politieke leiers, asook po­litieke partye wat mekaar kritiseer – baie daavan waar­skyn­lik in die hoop om ’n invloed op die uitslae te hê.

Inwoners van die Klein Karoo stem op 8 Mei vir watter politieke party hulle wil hê die land moet regeer, maar ook vir wie hulle wil hê die volgende paar jaar die Wes-Kaap moet lei. (Die volgende munisipale verkie­sings waar kiesers gaan besluit wie hul dorp of stad moet regeer, vind in 2021 plaas.)

Daar is volgens opnames tot 37% van mense onseker oor watter par­ty(e) hulle voor gaan stem. Daar is egter geen twyfel dat die ANC die nasionale verkiesing gemaklik sal wen nie. ’n Ipsos-opname toon dat die ANC nasionaal 61% van die stem­me behoort te kry, die DA 16%, die EFF 9% en die IFP en VF+ elk 1%. Die Universiteit van Johannesburg (UJ) se sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika se navor­sing toon dat pres Cyril Ramaphosa groter steun vir die ANC bring op nasionale en provinsiale vlak. Hulle opname toon dat 56% van kiesers vir die ANC gaan stem, 13% vir die DA en 9% vir die EFF.

Provinsiaal is dit egter ’n ander storie. Die DA glo dat die party weer die Wes-Kaap sal regeer, maar beide die ANC en EFF het reeds hul nasionale leiers na die provinsie gestuur vir stemwerwing en is positief oor hul steun in die Wes-Kaap.

In die Klein Karoo sal die politieke klimaat waarskynlik ook heelwat war­­mer word tussen nou en 8 Mei. Daar was reeds vandeesweek sprake dat dreigemente teen die Oudtshoorn Munisipaliteit en amptenare moontlik polities gemotiveerd kan wees.

Dit is gedurende tye soos hierdie dat verantwoordelike inwoners sal saamstaan en nie ’n klimaat van verdeling en negatiwiteit sal help skep nie. Dit is nie nodig dat die modder moet spat as mense polities verskil of voordat mense stembus toe gaan nie.