Prof Jan Snyman verlede jaar met sy tweede boek wat hy gepubliseer het. Foto: Higgo Jacobs
Deur Garnett Wicomb
“Hy was ’n uitnemende en entoesiastiese dosent met baie hoë standaarde en ’n goeie sin vir humor. Ons het die hoogste respek vir hom gehad,”
So het prof Josua Meyer, oud-student van wyle prof Jan Snyman (78), Saterdagoggend tydens ’n gedenkdiens vir Snyman by die Caves Aftreeoord, gesê.
Meyer is die hoof: meganiese en lugvaartkundige ingenieurswese en voorsitter: Skool vir Ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Hy het die roudiens namens die universiteit se hoofbestuur en spesifiek die rektor, prof Kupe, en dekaan, prof Sunil Mahara, en kollegas van die departement meganiese en lugvaartkundige ingenieurswese bygewoon.
Snyman was ’n inwoner van die oord en is op Vrydag 29 Maart na ’n erge beroerte vroeër die week oorlede.
Volgens Meyer het Snyman sy “menslike merk” gelos op baie kollegas en voor- en nagraadse studente by die UP.
Volgens hom het die departement tans ’n sterk groep in numeriese optimering wat internasionaal kompeterend is, as gevolg van Snyman se “menslike vorming” en omdat hy mense lief gemaak het vir sy vakgebied (numeriese optimering).
“Sy briljante optimeringsmetodes word vandag regoor die wêreld gebruik en sal vir wie weet hoe lank nog gebruik word,” het Meyer gesê.
Meyer het kortliks Snyman se lang lys van toekennings aan die gehoor voorgehou. Hy was ook die skrywer van twee nagraadse wiskundeboeke, die tweede nog verlede jaar saam met Nico Wilken.
Snyman se seun Piet, ’n pediater in Pretoria, het in sy huldeblyk sy pa beskryf as sy bron van inspirasie en iemand wat hom altyd goeie raad gegee en geluister het. “Hy het my geleer van eerlikheid, om nooit te veralgemeen nie, om alle mense met respek te behandel, van deursettingsvermoë, veral wanneer ’n mens terugslae beleef het, en lief te wees om te lag.
“Hy het ’n ongelooflike akademiese loopbaan gehad en was altyd passievol oor sy navorsingswerk en opleiding van voor- en nagraadse ingenieurstudente.
“Ek sal my pa onthou as ’n baie regverdige man wat nie een van sy drie kinders voorgetrek het nie en vir ons geleenthede geskep het om altyd verder te studeer.”
Sy pa was ’n sportliefhebber en het op Oudtshoorn gou by die Wesbank Tennisklub en die plaaslike gholfklub aangesluit.
Hy word oorleef deur sy vrou, Alta, twee kinders Piet en Barbara, vier kleinkinders, Ivan, Lucas, Johan en Pieter, sy broer, Hennie en suster, die bekende Wilna Snyman.