Hope klawermusiek by vanjaar se Klassique

Sulayman Human is by vanjaar se Klein Karoo Klassique te sien in When poets speak. Foto verskaf

LIEFHEBBERS van klaviermusiek het hope om na uit te sien by vanjaar se Klein Karoo Klassique, wat van Donderdag 8 Augustus en Sondag 11 Augustus op Oudtshoorn plaasvind.

“Die program bevat ’n verskeidenheid klawermusiek; van klavier tot orrel en marimba, uitgevoer deur bekroonde kunstenaars in solo- uitvoerings én as begeleiers vir ander musici,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees.

Die jong pianis Sulayman Human keer terug na sy tuisdorp in When poets speak op Vrydag 9 Augustus om 14:30.

Die inhoud van sy program is geïnspireer deur donker poësie asook dapper poësie.

“Musiek wat deur ’n ander kunsvorm geïnspi­reer is, het altyd ’n sterk, duidelike boodskap,” sê Human oor die inspirasie agter sy uitvoering.

“Alle vorms van kuns bring mense byeen en tydens hierdie ontmoetings word ’n gesamentlike bo-sintuiglike ruimte binnegegaan.”

Op Saterdag 10 Augustus om 14:30 speel Erik Dippenaar orrelmusiek in Transkribarok, met transkripsies van gewilde orkeswerke uit die Barok-periode. Die program sluit Handel se Musiek vir die

Koninklike Vuurwerke, Watermusiek en Die Aankoms van die Koningin van Skeba, asook ’n concerto grosso deur Corelli in.

Dippenaar is ’n multi-bekroonde kunstenaar en tans artistieke direkteur van die Camerata Tinta

Barocca, ’n Kaapstad-gebaseerde barok-ensemble wat reeds twee keer tevore by Klein Karoo Klassique opgetree het.

In Trio du Cap Classique op Vrydag 9 Augustus om 10:30 kombineer pianis François du Toit werke vir fluit, tjello en klavier saam met Liesl Stoltz (fluit) en David Pinoit (tjello).

Hulle program sluit Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, moontlik sy bekendste kamermusiek-komposisie, asook CM von Weber se Trio in G-mineur, Opus 63 in. Die program eindig met Herfs deur

Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla. Dié beweging maak deel uit van sy Vier Seisoene.

Theart vertel voorts dat Klassique vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 ’n Galakonsert aanbied, waartydens die gehoor klaviermusiek deur die jong Qden Blauw gaan hoor.

“Ons is baie opgewonde om vir Qden by Klassique te verwelkom.

“Hy het reeds verskeie pryse gewen en is op 15-jarige ouderdom die jongste solo-kunstenaar wat tot dusver by dié fees opgetree het,” vertel Theart.

Die jong Blauw lei die Galakonsert se program op Saterdag 10 Augustus om 19:00 in.

Die gehoor kan verder uitsien na klavierbegeleiding vir die drie soprane – Minette du Toit-Pearce, Lynelle Kenned en Janel Speelman – deur Philippus Hugo.

Olive Sandilands verskaf in Violin Dialogue op Saterdag 10 Augustus om 10:30 klavierbegelei­ding aan violiste Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan. Dié uitvoering is bekroon met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop in 2018.

’n Opwindende program van virtuose vioolduo’s met werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski word uitgevoer.

Klassique sluit op Sondag 11 Augustus om 14:30 af met ATKV-Virtuose in konsert wanneer pianis

Megan-Geoffrey Prins, wenner van ATKV-Muziq in 2016, vir bariton Bongani Kubheka en die saksofoonspeler Cameron Williams begelei.

Prins se vingerdanspassies op wit-en-swart klawers het hom al verskeie toekennings besorg.
Andersoortige perkussie-klawers word op Vrydag 9 Augustus om 18:00 deur marimba-speler Dylan

Tabisher in Marimba Melodies gebruik.

Tabisher het die Samro oorsese beurs in 2016 gewen en neem die gehoor saam op sy reis as marimba-speler. Werke van sy gunsteling-komponiste, waaronder Keiko Abe, JS Bach, Evelyn Glennie, Nebojsa

Zivkovic en Astor Piazzolla word gehoor.

• ’n Spesiale kaartjiepakket stel feesgangers in staat om elke noot by Klassique te hoor en boonop R240 te spaar.

“Feesgangers moet gou speel vir hul pakkette, aangesien dié aanbod uiters gewild is en ook vinnig uitverkoop,” sê Theart.

• Feesprogram beskikbaar by klassique.co.za. Kaartjies by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home of www.computicket.com.