Herstel van hangbrug byna klaar

Bo: Paul Müller, senior bestuurder strate en stormwater van die Oudtshoorn Munisipaliteit, by die hangbrug wat tans herstel word.
Onder: Die hangbrug verlede jaar net nadat dit deur die munisipaliteit gesluit is omdat dit te gevaarlik vir gebruik geraak het.
Foto’s: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN sal binnekort weer kan spog met ’n historiese hangbrug wat tot sy eertydse glorie herstel is.

Herstelwerk aan die hangbrug in Kerkstraat behoort teen die einde van volgende week afgehandel te wees, sê Paul Müller, senior bestuurder strate en stormwater by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit.

’n Plaaslike kontrakteurspan, Kholikile Clean­sing Services, is die afgelope aantal weke besig om met die herstelwerk aan die brug nadat erge ver­wering oor die jare ingetree en die loopvlak te gevaarlik geword het om op te loop. Van die loopplankies het gebreek en is ook vermoedelik ge­steel.

Die kontrakteurspan bestaan uit sewe geskoolde werkers.

“Omdat dit ’n nasionale gedenkwaardigheid is, is dit vir ons belangrik om niks aan dié historiese brug te verander nie, maar slegs dit wat verweer en stukkend is te herstel,” sê Müller.

Müller sê goedkeuring vir die herstel van die brug is, soos vereis word, van Heritage Oudts­hoorn Erfenis (HOE) asook van Erfenis Wes-Kaap verkry.

Die ou verf aan die torings aan weerskante van die brug is verwyder waarna dit in die oorspronklike rooi kleur geverf is. Hierna is die houtplankies op die brug vervang en met kreosoot behandel. Tans is die werkspan besig met die herstel van die draad aan weerskante van die loopvlak.

• Die hangbrug is in 1914 voltooi om inwoners te help om die Grobbelaarsrivier veilig tydens die reënseisoen te kruis. Volgens die inligtingsbord by die brug was die rivier tydens die reënseisoen ’n “bruisende stroom wat alles met hom meegevoer het.”

Die hangbrug word beskou as een van die mooistes in sy soort in die land. Dit het ’n enkele span van 91 meter en is in die middel gewelf. Die nege meter hoë torings aan weerskante is van getraliede staal.

Die hangbrug is in 1964 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Deesdae staan dié ge­denk­waardighede bekend as provinsiale erfenisgebiede, en geen herstelwerk daaraan mag sonder die goedkeuring van Erfenis Wes-Kaap gedoen word nie.