Klein Karoo Klassique 2018: 9 – 12 Augustus

Feesgangers kuier verlede jaar by Die Windpomp langs die NG Moederkerk op Oudtshoorn. Dié gesellige kuierplek was verlede jaar een van die hoogtepunte van Klein Karoo Klassique en sal vanjaar weer daar wees vir feesgangers.
Foto: Signature Divine op Facebook
EEN van die groot lekkertes van verlede jaar se Klein Karoo Klassique was die gesellige saamkuier elke dag én aand by Die Windpomp, ’n kuierplek wat geleë is op die terrein van die NG Moederkerk op Oudtshoorn waar die 10 hoofuitvoerings van die fees plaasvind.
Die Windpomp bied genoeg te eet en te drink vir die hongeriges en dorstiges en sal daagliks oop wees van 11:00 tot 19:00.
Ligte middagetes sluit onder meer hoenderpastei, quiche, lasagne, bobotie, varknek, vars brode, verskeie slaaie en nagereg in.
Koffie, wyn, kaas en olywe uit die streek, volstruisprodukte, handgemaakte sjokolade en ’n CD- en DVD-winkel sal ook by Die Windpomp te koop wees.
Aandkonserte en aandetes (vanaf 19:00) sal ook daar aangebied word.
Op Donderdag, 9 Augustus, om 21:00 tree die viool-duo van Ellani de Jager en Donné de Kock, oftewel The Grey, op. Hierdie dramatiese viool-duo het reeds landwyd kompetisies gewen en in Duitsland, Switserland, Oostenryk en Namibië opgetree. Hul musiek word gekenmerk deur ’n vermenging van oud en nuut, met klassieke musiek uit ’n wye reeks genres, waaronder pop, rock en ballades.
Op Vrydag, 10 Augustus, om 21:00 keer Brathew van Schalkwyk (klavier), Jesse Julies (saxofoon en sang) en Naledi Masilo (sang) na ’n suksesvolle optrede by verlede jaar se fees, terug na Klassique vir Another Evening of Jazz. Feesgangers kan uitsien na ’n splinternuwe jazz-program met ’n vermenging van tradisionele jazz en meer kontemporêre interpretasies.
José Dias (klavier) voltooi die program in Die Windpomp op Saterdag, 11 Augustus, om 21:00 met een van die belangrikste klavier-meesterstukke, 24 Preludes Op.28 by Frédéric Chopin. Verwag ’n stormagtige, romantiese en fantastiese reeks van onvergeetlike musikale sketse.
“Kaartjies vir die optredes in Die Windpomp Restaurantteater kos R90 en het verlede jaar blitsvinnig uitverkoop. Feesgangers moet hul kaartjies vroegtydig bespreek, aangesien sitplek beperk is,” sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van
Kunste Onbeperk, aanbieder van Klassique.
Volgens Theart is kaartjies vir hierdie drie optredes slegs by Kunste Onbeperk se kantoor in Die Neelsie (Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn) of telefonies by 044 203 8600 beskikbaar.
Theart voeg by dat heerlike aandetes saam met dié vertonings geniet kan word.
“Aandete word saans vanaf 19:00 bedien. Kaartjies na die vertonings, sluit nie aandete in nie.
“Die volledige spyskaart is by Kunste Onbeperk se kantoor beskikbaar, waar besprekings vir etes ook gedoen kan word.”
Theart sê hoewel voorafbesprekings vir aandete aanbeveel word, is dit nie noodsaaklik nie.
Die spyskaart vir aandete wissel, maar sluit geregte soos volstruis-stroganoff, tamatiebredie en wildspastei bedien met groente en nagereg in.
• Klein Karoo Klassique vier vanjaar ’n dekade van klassieke musiek, kuns, kos en wyn in die Klein Karoo.
Kaartjies vir die tien hoofuitvoerings by die fees is te koop by Computicket of Checkers.
Meer inligting kan gevind word by www.klassique.co.za