Herman die ster toe sy bakkie 400 m in 7,97 sekondes aflê!

Herman Mostert, eienaar van Tretsom Bouers op Oudtshoorn, is as die “onbetwiste ster” van Saterdag, 14 Augustus, se Motorsport Suid-Afrika Drag Race-byeenkoms op die Killarney-renbaan in Kaapstad aangewys toe hy met sy Nissan Champ-bakkie ’n 400 m-wed­ren in 7,97 sekondes met ’n topsnelheid van 308,06 km/h afgelê het - die vinnigste van die dag! Dit was dié Nissan - met sy splinternuwe 2JZ-aangedrewe enjin - se eerste verskyning op die baan. Die bakkie, herdoop tot “Jack Russel”, het blitstye aangeteken. Mostert het ook die tweede vinnigste tyd van die dag in sy boksvormige Toyota Corolla, met die bynaam “Poedel”, aan-geteken: 9,11 sekondes teen 216,93 km/h om Klas OS te wen. Meer oor Mostert en sy Jack Russel en Poedel in ’n volgende uitgawe van Die Hoorn.