Vyf jaar tronkstraf vir moordenaar van Riaan Galant

Oudtshoorn Landdroshof.

Oudtshoorn Landdroshof.

Deur Garnett Wicomb
’N JONG man van Oudtshoorn wat ’n man oor ’n bietjie tabak doodgesteek het, is die afgelope Maandag in die Oudtshoorn Streekhof aan moord skuldig bevind en vanweë sy ouderdom vyf jaar gevangenisstraf opgelê.

Die 18-jarige Jason Wagenaar het beken dat hy op 10 Januarie 2016 vir Riaan Galant (31) in 14de Laan, Bridgton, met ’n mes in die hart en regterlong gesteek het. Hy wou tabak uit Galant se sakke haal en hulle het in die struweling wat daarop gevolg het op die grond beland. Hy het Galant toe verskeie kere met ’n mes gesteek.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het gevra vir gevangenisstraf van tussen sewe en agt jaar indien die hof afwyk van die voorgeskrewe vonnis van 15 jaar. Hy het gesê Wagenaar het ’n man vermoor wie se dogter pas na die hoërskool is.

Die moord op Galant het destyds skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

“Die lewe is nie ’n goedkoop speelding nie,” het streeklanddros Mark van Wyngaardt met vonnisoplegging gesê. “Dit pla die hof dat u nie die familie van die oorledene om verskoning gaan vra het nie. U is agtien en loop met ’n mes rond.”

Die landdros het in ag geneem dat Wagenaar nog jonk is en nie direkte opset gehad het om te moor nie.