Twee jeugdiges van 16 en 17 onder verdagtes
Deur Garnett Wicomb
TWEE volwasse mans en twee jeugdiges van De Rust wat daarvan aangekla word dat hulle ’n vrou en haar broer in ’n plaashuis op Middelplaas met messe gedreig en beroof het, verskyn weer vandag (Donderdag, 18 Januarie) in die Oudtshoorn Landdroshof op klagtes van roof met verswarende omstandighede.
Niklaas Witbooi (23), Jason Jantjies (24) en twee minderjariges van onderskeidelik 16 en 17 jaar het glo op Maandag 8 Januarie by die plaashuis ingebars nadat die eienaar by die huis weg is om werkers na hul huise te neem.
Hulle het die huis geplunder, geld ge-eis en met fietse, ’n skootrekenaar, selfoon, kontant en juwele op die vlug geslaan.
Feitlik al die items is egter later na ondersoek deur die polisie van De Rust teruggevind.
Die plaaseienaar (20), sy vriendin (18) en haar broer het onlangs na De Rust verhuis, maar het na die voorval besluit om pad te gee en die plaas weer te verkoop.
Die saak teen die vier verdagtes dien in camera voor landdros Roelf Konstabel.
Die saak is vir borgprofiele van Witbooi, Jansen en die 17-jarige tot vandag uitgestel.
Die 16-jarige is in die sorg van sy ouers vrygelaat.