Deur Ilze-Mari Gründling
DIE optogte na dwelmhuise op 3 November en 5 Desember 2017 in Ladismith het volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, vrugte afgewerp.
Volgens Cederas is 60 persone in Desember in hegtenis geneem vir die besit van dagga, tik en mandrax.
Beslag is gelê op 100 x 750 ml Castle-bier, 20 tikstrooitjies, 28,21 gram tik, 10 mandraxtablette, 1,638 kg dagga asook 108 daggaplante.
Sewe persone is ook in hegtenis geneem vir dronkbestuur.
“Die Ladismith SAPD het die belofte van ’n blou Kersfees vir oortreders gehandhaaf deur groter sigbaarheid, asook optredes teen smokkelaars en projekte met kinders waartydens die belangrikheid van misdaadvoorkoming beklemtoon is.
“Dit het direk daartoe bygedra dat Kersfees en Nuwejaar as stil ervaar is,” sê Cederas.
Volgens Cederas is die SAPD egter bekommerd oor die gedrag van jongmense.
“In Zoar het ’n groep jeugdiges die SAPD geskel terwyl hul besig was met optredes.
“In Sakkiesbaai is aanmerkings gemaak teenoor die SAPD nadat ’n persoon aangerand is en die ambulans lank geneem het om op te daag.”
Cederas sê hoewel daar teenoor die persone opgetree is, onderstreep dit hoe groot die opvoedingstaak nog binne die gemeenskap is.