Tweede verdagte vas na aanranding op bejaarde

Deur Ilze-Mari Gründling
’N TWEEDE verdagte is verlede Vrydag in hegtenis geneem in verband met die aanval en roof op Frans Tredoux (74) by sy plaaswinkel op Stolsvlakte.

Hy is Jacobus van der Ross (53). Ronald Olkers (19) is kort na die aanval in hegtenis geneem. Albei is tans in aanhouding en verskyn vandag in die hof op Oudtshoorn.

Tredoux is verlede Maandag (29 Mei) in sy plaaswinkel naby sy huis op die plaas Van Wyksvlei deur twee mans oorrompel, met ’n mes en knopkierie aangerand en be­roof. Hy het in die aanval verskeie beserings opgedoen, onder meer snywonde aan sy kop terwyl ’n rugprobleem ook vererger is deur die aanval.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Van der Ross omstreeks Vrydag omstreeks 17:00 in Rose Valley in Oudtshoorn deur sers Debbie Greef van die Attekwa K9-eenheid in hegtenis geneem.

“Hulle was die heel tyd op sy spoor terwyl hy die polisie ontduik het,” het Michaels gesê.
Intussen blyk dit dat Tredoux sy aanvallers geken het.

Volgens sy vrou, Nettie, moet Tredoux volgende week George toe gaan vir skanderings en toetse.
“Dit gaan beter en sy steke sal binnekort uitgehaal word. Maar ons het besluit om nie hier te bly nie. Aan die einde van die maand sal ons trek.

“Dit wat gebeur het, is so onnodig, en dit is mense wat voor ons oë grootgeword het. Hulle kon net die geld gevat het. Hoekom moes hulle hom seermaak?”