Samewerking help om vermiste bejaarde nog dieselfde dag op te spoor

Oom Peet (73) sterk tans aan by die huis. Na sy besering onder-vind hy probleme om op te staan.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Oom Peet (73) sterk tans aan by die huis. Na sy besering onder-vind hy probleme om op te staan. Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
’N BEKENDE inwoner van Bridgton, Petrus (oom Peet) Jordaan (73) is danksy samewerking van Oudts­hoorniete Sondag gevind nadat hy klaarblyklik verdwaal het.

Volgens Samentha Adams, ’n kennis van die Jordaans, het oom Peet van sy suster Regina af na haar seun, Desroy, in Asstraat gestap, maar nooit by Desroy opgedaag nie.

“Hy is lief vir stap, maar na ’n kopbesering toe hy drie jaar oud was, was hy nie meer dieselfde nie. Ons was bang dat hy verdwaal het. Ek en Regina het by die Bridgton Polisiekantoor hulp gaan vra.”
Semantha het ook op die Facebook-blad Oudtshoorniete Staan Saam hulp gevra.

Mense het dit begin deel en verskeie mense het laat weet dat hulle hom gesien het, onder meer by die hek van korrektiewe dienste.

“So net na sewe die aand het ’n polisiebeampte my gebel en gesê dat hy gevind is.
“Ons was so verlig.”

Volgens haar het ’n jong paartjie oom Peet op die Rooibrug (op die pad na Rooiheuwel) opgelaai en na die Oudtshoorn Polisiekantoor geneem. Hulle het ook vir hom iets gekoop om te eet.

“Dit het gelyk asof hy geval het. Ons is nog nie seker wat met hom gebeur het nie. Sy heup is steeds seer en hy is hospitaal toe vir ’n wond aan sy kop. Maar ons is so dankbaar en verlig dat hy veilig by die huis is. Ons is so dankbaar teenoor almal wat gehelp het, insluitend die mense op Facebook, die SAPD en Buks en Theo Gouws van Klein Karoo Event Medics.”

Buks Gouws sê hy het die inskrywing op Oudtshoorniete Staan Saam gesien en besluit om te help soek.
“Toe ons hom wel by die Poli­siekantoor gaan sien het, kon ek nie onmiddellik erge beserings aan hom opmerk nie, maar ons wou nie ’n kans vat nie.”

Jordaan is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem en in die noodeenheid behandel vir ’n geringe besering aan sy voorkop.

Hy is vroeg Maandagoggend ontslaan en sterk tans aan by sy huis in Bridgton.