Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Volmoed wat sy saamleefmaat en ma van sy kind met ’n klip doodgegooi het, is in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind.
Heinrich Arries (22) het volgens sy eie getuienis die 18-jarige Leentjie Baartman op 6 Maart verlede jaar met ’n klip teen die kop gegooi nadat hulle vroeër die dag saam gedrink het.
Hy het ontken dat hy haar ook aangerand het.
Baartman se lyk is die volgende oggend deur verbygangers langs die pad in die Volmoed-omgewing gevind. Volmoed is net buite Oudtshoorn geleë.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het die hof gevra om Arries aan moord skuldig te bevind maar streeklanddros Mark van Wyngaardt het beslis dat hy nie die opset gehad het om te moor nie.
Vonnisoplegging is vir korrektiewe en proefbeampteverslae tot 12 Julie uitgestel.