
Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat vir die besit van dwelms skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Landdroshof ’n stywe boete en opgeskorte vonnis opgelê.
Pieter Oliphant (32) van Oudtshoorn het aangevoer dat hy sy broer se broek aangehad het waarin daar 17 Mandrax-tablette was.
Landdros Lorraine Samuels het met vonnisoplegging gesê die hof word daagliks toegegooi met dwelmsake en dat die effek van dwelms op gemeenskappe nie geïgnoreer kan word nie.
Oliphant het drie vorige veroordelings vir die besit van dwelms.
Die landdros het gesê hy is besig om vir hom ’n paadjie na die tronk te plavei.
Hy is ’n boete van R3 000 of 12 maande gevangenisstraf opgelê waarvan die helfte voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.