
Die kabels waarop beslag gelê is. Foto verskaf
TWEE mans verskyn vandag in die Ladismith Landdroshof nadat hulle gister in hegtenis geneem is in verband met die diefstal van koperkabels ter waarde van sowat R100 000.
Die mans, 20 en 35 jaar oud, is deur lede van die Ladismith Polisie en die Attaqua K-9-(honde)eenheid vasgetrek. Die mans is van Ashton.
Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Polisie in die Suid-Kaap, het die polisie Dinsdag in die vroeë oggendure inligting ontvang dat daar met Telkom-lyne op die Ladismith-Barrydale-pad gepeuter is.
Tydens ’n patrollie tussen Ladismith en Barrydale is ’n verlate Toyota met ’n sleepwa omstreeks 03:10 langs die pad gevind; sowat 5 km buite Ladismith. Die polisie het ook beslag gelê op 20 rolle koperkabel met ’n beraamde waarde van R100 000.
’n Soektog te voet is hierna van stapel gestuur en omstreeks 07:30 is die eerste verdagte gevind waar hy onder ’n bos weggekruip het. Die tweede verdagte is kort daarna ook gevind.
Die bevelvoerder van die Eden Cluster, genl.- maj. Oswald Reddy, het die polisiebeamptes wat by die inhegtenisneming betrokke was, bedank vir hul toewyding.
Die saak sal verder deur die Polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid (die Valke) ondersoek word.