Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Schoemanshoek wat ’n buitelandse toeris in ’n gastehuis van sy selfoon beroof en sy eie in die struweling op die toneel verloor het, is in die Oudtshoorn Streekhof vier jaar tronkstraf opgelê.
Abraham van Vuuren wat weens verskeie vorige veroordelings reeds vroeër onbevoeg verklaar is om ’n vuurwapen te besit, het in die nag by een van die kamers van die Montana Gastehuis ingegaan en die selfoon van ’n Oostenrykse toeris gesteel. Die man wat saam met sy vrou in die kamer was, het wakker geskrik en is in die stoeiery beseer. Van Vuuren het gevlug, maar is later die dag aangekeer na aanleiding van inligting op sy eie selfoon.
Die eienaar van die gastehuis, dr Wolfgang Beitz, het getuig dat inbrake en diefstalle gereeld by die gastehuis plaasvind en dat hy teen groot onkoste sekuriteitswagte moes aanstel.
Hy het voorts getuig dat die inbrake en diefstalle tot groot nadeel van toerisme strek.
Van Vuuren het ontken dat hy die toeris beseer het. Volgens sy regsverteenwoordiger het hy die selfoon gesteel en geloop.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat die beskuldigde vyf vorige veroordelings op sy rekord het en reeds lewenslank onbevoeg verklaar is om ’n vuurwapen te besit. Van Vuuren is deur streeklanddros LA Wilkens aan diefstal skuldig bevind en ingevolge Artikel 276 (1) (i) tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy kan na die uitdiening van ’n sesde van die vonnis om parool aansoek doen.