Man vasgetrek vir dwelms en vermoedelik gesteelde goedere

Deur Ilze-Mari Gründling
’N 34-JARIGE man van Oudtshoorn staar klagtes van die besit van dwelms en vermoedelik ge­steelde goedere in die gesig nadat hy op Woensdag 30 Augustus in hegtenis geneem is.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is die man se perseel in ’n gesamentlike operasie tussen die Oudtshoorn Polisie en die Cluster Misdaadvoorkomingeenheid van Toekomsrus, Oudtshoorn, deursoek.

Tydens die ondersoek het die polisie 60 gebreekte Mandrax-tablette, 20 heel Mandrax-ta­blette, 21 kwart Mandrax-tablette, 19 sakkies tik, twee kameras, twee geheuekaarte en een USB-kabel gevind.
Volgens Cederas is ’n lasbrief tydens die operasie gebruik.

Die stasiebevelvoerder van die Oudtshoorn Polisie, brig Levona Januari, het die lede betrokke by die operasie geprys vir hul toewyding om misdaad te bekamp.