Deur Garnett Wicomb
DIE hofsaak teen Emmerentia Weyngardt, ’n voormalige boekhouer van die Montana Gastehuis in Schoemanshoek, word op 11, 12 en 13 September in die Oudtshoorn Streekhof hervat.
Weyngardt word daarvan aangekla dat sy tussen 2013 en 2015 altesaam R557 707,15 van die Montana Gastehuis gesteel het. Sy ontken skuld.
Die ondersoekbeampte, ao Darome Burger, het by Weyngardt se vorige verskyning getuig dat die beskuldigde by verskeie geleenthede dieselfde bedrae wat elektronies aan verskaffers betaal is, ook na haar eie bankrekeninge oorgeplaas het. Weyngardt het ook by ander geleenthede, volgens Burger, aangedui dat geld na bankrekenings van verskaffers oorgeplaas is, maar volgens haar persoonlike bankstate in haar eie bankrekeninge betaal is.
Weyngardt se regsverteenwoordiger, Werner van Rensburg, het daarop gewys dat groot bedrae geld uit die rekening van die Montana Gastehuis ook in die rekeninge van ander werknemers oorbetaal is en dat die eienaar nie al die inligting aan die ondersoekbeampte verskaf het nie.
Burger het met Van Rensburg saamgestem en toegegee dat die eienaar van die gastehuis, dr Wolfgang Beitz, skynbaar baie dinge vergeet.
Volgens Van Rensburg is talle groot bedrae geld ook in die rekeninge van ander personeellede se rekeninge betaal.
By een geleentheid in 2014 is ’n bedrag van R40 000 glo foutiewelik in ’n personeellid rekening betaal wat hy later terugbetaal het.
Van Rensburg het dit ook aan Burger gestel dat die rekenmeestersfirma, Steyl en Cloete, ook oorbetalings namens die gastehuis gemaak het.
Die klaer het volgens die verdediging ook nie die ondersoekbeampte meegedeel van ’n bedrag van R200 000 wat uit sy bankrekening verdwyn het lank nadat die beskuldigde sy diens verlaat het nie.
Streeklanddros LA Wilkens het in ’n stadium opgemerk dit pla hom dat geld na verskillende verskaffers, maar dieselfde bankrekeningnommer oorgeplaas is.
Weyngardt is op borgtog uit en haar borgvoorwaardes is vroeër verslap. Sy hoef nie meer elke Vrydag by die Oudtshoorn Polisiekantoor aan te meld nie. Sy het glo genoeg bates en woon by familie op Oudtshoorn.