Die nuwe lede van die Oudtshoorn Munisipaliteit se ouditkomitee is voor van links Ingrid Lorenz, Rose-Marie Klaas-Ewerts en Rolene van Rooyen en agter van links James du Preez en Lampies Lambrecht. Die komitee het op 24 Augustus sy eerste van vier vergaderings vir die boekjaar, wat van 1 Julie 2017 tot 30 Junie 2018 strek, gehou.
DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het weer ’n funksionerende ouditkomitee nadat vyf lede met ingang 1 Julie 2017 vir ’n driejaartydperk aangestel is.
Die daarstel van ’n funksionerende ouditkomitee was een van die doelwitte van die nuwe raad wat verlede jaar oorgeneem het.
Die ouditkomitee het in ‘n stadium ophou funksioneer onder die bestuur van die vorige raad.
’n Munisipaliteit moet ingevolge die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) ’n ouditkomitee aanstel wat as ’n onafhanklike raadgewende liggaam funksioneer en die Raad en munisipale bestuur adviseer oor onder meer interne finansiële kontrole, risikobestuur, prestasiebestuur en etiek.
Die komitee moet ook die jaarlikse finansiële state van die munisipaliteit hersien om ’n gesaghebbende mening oor die finansiële stand van die munisipaliteit te kan gee voor indiening van die state by die kantoor van die Ouditeur-Generaal.
Om hierdie funksies te kan verrig het die komitee toegang tot die finansiële rekords en enige ander relevante inligting van die munisipaliteit en werk hulle nou saam met die interne ouditafdeling van die munisipaliteit.
Burgemeester Colan Sylvester sê ’n funksionerende ouditkomitee is vir die Oudtshoorn Munisipaliteit ’n stap in die rigting van “goeie bestuur, deursigtigheid en die versekering van ’n skoon oudit.”
Die vyf nuwe lede van die ouditkomitee is James du Preez, ’n kundige in voorsieningskanaalbestuur, Lampies Lamprecht, oud-burgemeester, en Ingrid Lorentz wat albei gesertifiseerde rekenmeesters is, Rolene van Rooyen, ’n prokureur, en Rose-Marie Klaas-Ewerts wat beskik oor kundigheid oor die bankwese en algemene bestuur.