Die Ladismith-Polisie se suksesstories met dwelmverwante sake is iets om mee te spog, met die polisie se lede betrokke by die C-skof onder die leiding van sers Glanville Barry wat tans die pas aangee met dwelmverwante inhegtenisnames.
Die polisie het op Vrydag 28 Februarie 2020 beslag gelê op 10 gram tik met ’n straatwaarde van sowat R10 000 tussen ’n pak wortels in ’n plastieksak van ’n bekende winkelgroep gevind. Die polisie het opgetree nadat hulle inligting ontvang het dat ’n dwelmmuil per taxi van Oudtshoorn op pad is na Zoar. ’n Wit taxi is in die Huisrivierpas afgetrek en deursoek.
Barry het die week net lof gehad vir sy lede se flink optrede.
Intussen is twee mans van Nissenville op Ladismith op Woensdag 4 Maart 2020 gevonnis vir dwelmverwante misdrywe. Lorenzo Rademeyer (30) wat in besit was van drie tikstrooitjies is beboet met R2 500 of drie maande gevangenisstraf, en Godfrey Mgaga (53) wat in besit betrap is met ’n Mandrax-tablet, is beboet met R3 000 boete of drie maande gevangenisstraf.
Die voorsitter van die Ladismith Gemeenskapspolisiëringsforum, Dawid Bothman, het die vonnisse verwelkom en die lede geloof vir hul optrede. (Deur Deon Meyer)