“STICK with me, baby. Ek kan nie belowe dat ek jou famous sal maak nie. Maar jy sal fun hê langs die pad”. Mart se opwindende, maar ook ontnugterende inisiasieproses begin met hierdie woorde van haar rebelse kamermaat.
Die traumas van grootword, swangerskap en selfmoord word in ’n veelbekroonde eenvrouvertoning by die KKNK, Dinge van ’n kind met Cintaine Schutte, geplaas teen die agtergrond van die 1970’s se politieke leuens, en die verminking van jong mans in die grensoorlog. Dit is ’n produksie wat elke ma, dogter en die mans in hulle lewens behoort te sien.
Dinge van ’n kind is gebaseer op die gelyknamige boek van Marita van der Vyver en met die Aardklop-trofee vir beste solovertoning bekroon. Die stuk was ook genomineer vir twee kykNET Fiëstas, naamlik vir teks en solovertoning.
Francois Toerien het die teks verwerk, die klankbaan is deur Schalk Joubert en die regie deur Nicole Holm.
Dit is tydens die KKNK te sien in die Laerskool Van Reedesaal op 24 Maart om 10:00, 25 Maart om 16:30, 26 Maart om 10:00, 27 Maart om 20:00 en 28 Maart om 10:00.
Wen so ’n dubbelkaartjie na Dinge van ’n kind
Deur ’n vraag korrek te beantwoord, staan lesers van Die Hoorn die kans om dubbelkaartjies te wen na die produksie.
Antwoord die volgende vraag en SMS of WhatsApp die antwoord na 0732177089 voor 11:00 op Maandag 16 Maart: Watter bekroonde aktrise is te sien in Dinge van ’n kind?
Onthou om jou naam en van by te voeg asook watter een van die vyf vertonings jy graag wil bywoon! Slegs een inskrywing per persoon.
Inskrywings kan ook in ’n houer by PostNet geplaas word.
’n Gelukkige trekking uit die korrekte antwoorde sal gedoen word en die name van die wenners volgende week in Die Hoorn bekend gemaak word.