KKNK: Leer hier meer oor Oudtshoorn se ryk geskiedenis

TWEE geleenthede om meer oor Oudtshoorn se ryk geskiedenis te leer is op vanjaar se KKNK- program ingesluit.

Die Vriende van die CP Nel Museum bied ’n Historiese Wandeltoer met ’n kenner van die dorp se geskiedenis, Peter Gray, aan.

Dit is ’n gemaklike staptoer waar besoek afgelê word by belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn, wat as grondslag dien vir toeligting van en ’n bespreking oor die geskiedenis van die dorp.

Beans about Coffee bied ’n klok-besigtiging by die museumtoring aan. Dit is ’n uitsonderlike ge­leentheid om die JW Benson-toringklok, wat uit 1908 dateer, te sien. Die klok is onlangs herstel en om 12:00 word die Westminster-klokkespel ge­hoor. Om die ervaring spesialer te maak, word vonkelwyn en volstruis-carpaccio bedien.