Deur Liesel le Roux
’N GEREGTELIKE nadoodse ondersoek gaan gedoen word nadat die liggaam van ’n 14-jarige seun Saterdagoggend omstreeks 06:35 in Rose Valley (voorheen Riemvasmaak) in Oudtshoorn gevind is.
Lee Bruintjies (14) se liggaam is in een van die nuwe dubbelverdieping-huise in die woonbuurt gevind.
Daar was na verneem word Saterdagoggend groot ontsteltenis in die woonbuurt nadat ’n man ook in Rose Valley gesterf het nadat hy vermoedelik ’n epileptiese aanval gehad het.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die dood van Lee bevestig en gesê ’n geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Michaels sê die Polisie sal op grond van die uitslag van die ondersoek bepaal of enige verdere saak ondersoek sal word.
Intussen het inwoners van Rose Valley hulle na sosiale media gewend om te kla oor ’n gebrek aan beligting in die woongebied.
Die gebied het nie straatligte nie, maar daar is buiteligte aan die huise en ook oorhoofse ligte.