Negende Klassique was grootste nog, sê Snyman

“DIE negende Klein Karoo Klassique wat van 11 tot 13 Augustus op Oudtshoorn plaasgevind het, is deur die grootste gehore in dié fees se geskiedenis bygewoon,” sê Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van Klein Karoo Klassique.

“Klassique se toenemende groei te midde van die huidige ekonomiese klimaat, dui daarop dat die fees se lojale gehoor waardering vir vanjaar se toeganklike musiek, groter variasie op die program en bekostigbare kaart­­jiepryse gehad het,” sê Snyman.

“Klassique het dit opnuut reggekry om kunsmusiek toeganklik te maak, gekenmerk deur verskeidenheid – van kitaar tot outentieke barokinstrumente en van soprane tot ’n verkorte opera.

“Die fees is op een perseel aangebied (die NG Moederkerk-kom­pleks), wat dit vir feesgangers moontlik gemaak het om tussen uit­voerings heerlik te kuier en te ont­span,” sê sy.

“Die uitgebreide musiekprogram is aangevul deur ’n eerste restaurant-teaterervaring en ons gaan beslis op hierdie gewilde konsep voortbou volgende jaar,” vertel sy.

Snyman vra dat feesgangers terug­voer oor Klassique na info@kunste. org.za moet stuur en ook nou reeds volgende jaar se datums moet aanteken.

Volgende jaar se Klein Karoo Klassique vier ’n dekade van dié klassieke musiekfees op Oudtshoorn.
Volgens Snyman sal die 2018-fees vir dié spesiale geleentheid een dag langer wees, van Donderdag, 9 Augustus, tot Sondag, 12 Augustus.”