Borgaansoek-uitspraak uitgestel tot Vrydag

Deur Garnett Wicomb
DIE borgaansoek van ’n Nigeriese burger, wat met tik van meer as R3 miljoen in sy besit betrap is, is in die landdroshof op Oudtshoorn vir uitspraak tot komende Vrydag uitgestel.

Die ondersoekbeampte, ao Jacobus Groe­newald, het getuig dat die beskul­digde, Samuel Orama, per bus van Johannesburg tot in Port Elizabeth gereis en van daar na Kaapstad geryloop het.

Die motor waarin hy ’n passasier was, is op 8 Mei 2017 op die George-pad net buite Oudtshoorn deur die polisie voorgekeer en deursoek. ’n Rooi sak wat aan Orama behoort met tik ter waarde van sowat R3,6 miljoen daarin is in die ba­ga­sieruim gevind, waarna Orama probeer weghardloop het.

Die klagtes teen die drie ander mans in die voertuig is deur die staat teruggetrek omdat hulle volgens Orama niks met die aangeleentheid te doen gehad het nie.

Groenewald het borgtog teengestaan.

Orama se regsverteenwoordiger, Theleshia Piedt van die prokureursfirma Coet­zee en Van der Bergh Ingelyf, het die hof versoek om borgtog toe te staan om­dat Orama oor ’n vaste adres en werk beskik. Hy is ook nie ’n vlugrisiko nie en sal sy hofverskynings bywoon.
Die saak dien voor landdros Lorraine Sa­muels.