Nog ’n munisipale amptenaar vasgetrek deur Valke

Deur Garnett Wicomb
en Liesel le Roux
’N VOORMALIGE senior amptenaar van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Frikkie Van Staden (51), het verlede Woensdag vlugtig in die Oudtshoorn Streekhof verskyn op aanklag van bedrog en korrupsie.
Van Staden is in Februarie deur die Valke se eenheid vir ernstige handelsmisdaad in hegtenis geneem. Hy was destyds ’n assistent-superintendent van die munisipaliteit verant­woordelik vir die instandhouding van paaie.

Volgens kapt Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het Van Staden na bewering tussen 2010 en Julie 2014 die munisipaliteit “onno­dig beïnvloed” om werk toe te ken aan Kamvelihle, ’n diensverskaffer wat aan sy skoonsuster behoort het.

Die munisipaliteit het na bewering as gevolg hiervan ’n verlies van R2 mil­joen gely.
Ramovha sê voorlopige ondersoe­ke dui daarop dat Van Staden betrokke was by die stigting van Kam­velihle en sy skoonsuster bloot gebruik het as ’n front om sake met sy werkgewer te doen. Daar word beweer dat wanneer betalings gedoen is, sy skoonsuster die geld uit Kam­velihle se rekening getrek en aan Van Staden oorhandig het.

In ruil het hy haar na bewering bedrae wat wissel tussen R500 en R1 000 per maand betaal.
Landdros JC Nortje het die saak verlede Woensdag tot 25 April uitgestel sodat die regspan van die beskuldigde afskrifte van die saakdossier kan bekom.
Van Staden is uit op waarskuwing.