Stappe kom oor mense op straat

Gideon Badenhorst

Gideon Badenhorst

DIE probleem met “kinders en ander probleemmense op straat in Oudtshoorn se sakekern” is indringend bespreek tydens ’n vergadering van die Oudtshoorn Besigheidskamer, die SAPD, die Oudts­hoorn Munisipaliteit, die verkeersafdeling, Oudtshoorn Toerisme en die Wes- Kaapse Departement van Maatskaplike Dienste op Donderdag, 30 Maart.

Die vergadering is byeengeroep na aanleiding van onder meer ’n groep Israeliese toeriste en hul toeroperateur wat onlangs deur “straatkinders” lastig geval en be­dreig is.

Volgens Gideon Badenhorst, voorsitter van die Besigheiskamer, was dit ’n goeie vergadering en het “daadwerklike stappe” daaruit gespruit.

“Almal teenwoordig het saam­gestem dat sigbare polisiering in die sakekern verbeter moet word. Daar is ook besluit dat die munisipaliteit weer wetstoepassers sal aanstel, wat reeds gedoen is. Sowat vyftien wetstoepassers is aangestel, en hulle patrolleer reeds die strate in dubbelskofte. Hulle is tot einde Junie aangestel waarna hul aan-stellings hopelik permanent ge-maak sal word,” het hy gesê.

Volgens Badenhorst is daar ook tussen die rolspelers ooreen­gekom dat hulle gereeld moet vergader. Die volgende verga­dering is reeds belê vir 20 April om vordering te evalueer.

“Waaroor daar ook eensge­sindheid was, is dat daar iewers onder die rolspelers ’n fasiliteit geskep sal moet word waar pro­bleemkinders heen gebring kan word om hulle van die straat te hou en na hulle om te sien,” het hy gesê.

Daar sal ook gedurende die duur van die KKNK, wat Saterdag begin, ’n gesamentlike operasiesentrum wees, bekend as die GOS. Dit sal gedurende die fees 24 uur per dag beman word. Die telnr is 084 832 2443. Die Polisie se noodnommer is 044 203 9000 en 10111.

• Badenhorst sê die Oudtshoorn Besigheidskamer moedig alle inwoners van Oudtshoorn aan om op die nuwe waardasierol, wat nou be­skikbaar is, te gaan kyk waarvoor hul eiendomme nou ge­waardeer is. “Inwoners wat ontevrede met die waardasie van hul huise is, moet gaan beswaar aanteken by die munisipaliteit. As hulle hulp nodig het, is hulle welkom om die Besigheidskamer per e-pos te kontak by business@odnchamber. co.za of tel 044 272 6637 te skakel.

• Om vanjaar se KKNK te ondersteun het die Besigheidskamer 100 kaartjies gekoop wat gratis aan lede beskikbaar gestel word.
Lede sal ’n e-pos van die kamer in die verband ontvang.